Oorkom TeleurstellingsVoorbeeld

Oorkom Teleurstellings

DAG 7 VAN 7

OORWINNING

Hou hoop lewendig ─ ek kan uit ondervinding praat en jou vandag verseker dat dit moontlik is om teleurstelling te oorkom, genesing te ervaar en weer te hoop!

Ons kan ‘n paar praktiese dinge doen om teleurstellings te oorkom:

  • Pas jou verwagtinge aan. Soms verwag ons net te veel. Koning Salomo het in Prediker 2:11 geskryf: "Terwyl ek gekyk het na alles wat ek so hard gewerk het om te bereik, was dit alles so betekenisloos ... soos om die wind te jaag."
  • Leer uit nederlae. Teleurstelling en mislukking bou karakter en geduld wanneer jy dit toelaat. Volhard ten spyte van omstandighede. Romeine 5:3-4: "... maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop."
  • Fokus op hoop. Terwyl ons soms vashaak om op die hier en nou te fokus, is ons huidige situasie nie die einde van die storie nie. Paulus het geweet hoe teleurstellend die lewe kon lyk ─ ons hoef net sy briewe te lees om dit te weet. Tog het hy nooit opgehou om sy medegelowiges aan te moedig om die groot prentjie te midde van hul beproewinge te sien en vas te hou aan hul hoogste hoop op God nie. In 2 Korintiërs 4:16-18 moedig hy ons aan met hierdie woorde: "Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir 'n oomblik is, bewerk vir ons 'n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig."
  • Draai na God. Soek sy teenwoordigheid. Moses het presies dit gedoen – God sou die verlossing van sy volk bewerkstellig, nie Moses nie. Terwyl Moses se geloof besig was om te groei was God baie geduldig. Hy het hom teleurstellings laat ly sodat hy meer op God kon vertrou.
  • Bring lof aan Hom. Die psalmskrywer het geleer dat wanneer jy niks anders as God het nie, jy besef dat Hy genoeg is. Jou vrae sal nie almal beantwoord word nie. Jou omstandighede sal dalk nie verbeter word nie. Die persoon op wie jy jou hart stel, sal dalk nie aan jou verwagtinge voldoen nie, maar God is die krag van jou hart en jou deel vir ewig. Dawid het deur baie teleurstellings gestap, maar God het presies vir hom gedoen wat Hy belowe het, en toe hy dertig was, was die troon syne.

Ons weet dikwels nie wat God agter die skerms doen nie en dan moet ons onthou wat Jeremia 29:11 sê: “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee.”

In plaas daarvan om jou hart te omvou met teleurstelling, vra God om jou wysheid en insig te gee oor wat om jou aangaan. Ek weet hoe dit is om na oënskynlik dooie situasies te kyk. Jy is bang om te hoop want jy is moeg om keer op keer in die steek gelaat te word. Ek weet hoe dit voel as jou hoop verpletter word en dit voel of dit nie weer herleef kan word nie. Maar ek wil jou aanmoedig om jou hoop op Christus te plaas. Sy planne vir jou sal uitwerk, maak nie saak hoe lank dit neem nie. Mettertyd sal Hy begin om dinge rondom jou te laat blom en voorspoedig te maak.

Oordenking:

Lees Habukuk 3:17-19. Maak dit ‘n uitroep van jou eie hart.

Gebed:

Vader, laat my vertrou soos David en soos Habukuk. Help my om my oë op U alleen te fokus. Dankie dat in die middel van teleurstellings, U steeds naby my is, dat U steeds my gebed hoor. Amen.

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Oorkom Teleurstellings

Ons almal is bekend met teleurstelling. Gaan dit 'n vashouplek in ons lewe kry, of gaan ons kies om dit te oorwin? Hierdie 7-dag leesplan lei jou om met God se hulp deur jou teleurstellings te werk.

More

Ons wil graag New Life Family Church bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: nlfc.co.za