HeeltydVoorbeeld

Dag 1: Heeltyd in God se Teenwoordigheid
Psalm 46:11: “Wees stil en weet Ek is God” (NLV).
Vandag word ek herinner dat God nie net by my is wanneer ek bid of stil raak nie, maar heeltyd. Oor die algemeen is ons dae vol geluide, verantwoordelikhede en gedagtes wat meeding om ons aandag. Die wêreld skree op ons. Tog nooi God elkeen uit om hul fokus terug te bring na Hom toe, nie deur alles te stop nie, maar deur bewus te raak van sy teenwoordigheid bínne die alledaagse lewe.
Wanneer ek my fokus verloor, raak my vrede ook vaag. Ek besef dat fokus nie net gaan oor wat ek doen nie, maar oor wie ek raaksien terwyl ek dit doen. God is nie ver of afwesig wanneer ek en jy oorweldig voel nie. Hy is hier, naby en geduldig.
Om stil te wees beteken nie dat my wêreld stil raak nie, maar dat my hart leer om by God te rus. Elke keer wanneer my gedagtes afdwaal, mag ek dit sagkens terugbring na Hom toe. Dis nie mislukking nie, dít is groei.
Kies vandag om “stadig” te wees in jou hart. Jy hoef nie alles te verstaan of te beheer nie. God is reeds teenwoordig — heeltyd. Ek het êrens die volgende woorde raakgelees: “Kom sit by my; ek is ook vlot in stilte”.
Gebed:
Here, help my om vandag bewus te leef van u teenwoordigheid. Wanneer my fokus afdwaal, bring my hart terug na U toe. Dankie dat U altyd by my is.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Die woord “heeltyd” herinner ons dat God in elke oomblik teenwoordig is. Nie net in gebed, Sondae of moeilike tye nie, maar selfs in ons werk, rus en wag. Om heeltyd met God te leef, beteken om elke dag met vertroue te stap, selfs wanneer ons nie alles verstaan nie, en om ons fokus steeds na Hom toe terug te bring. Sy leiding, teenwoordigheid en genade is konstant. Heeltyd beteken dat God altyd hier is, betrokke is en genoeg is om ons te dra, ongeag ons omstandighede.
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.felicia-lategan.com




