HeeltydVoorbeeld

Dag 2: Heeltyd Hoop
Jeremia 29:11: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here , gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee” (AFR53).
Daar is dae wanneer hoop vir my baie ver voel, asof dit geplant is op ‘n ander kontinent, total buite my sig en bereik. Wanneer dinge nie uitwerk soos ek gehoop het nie, of neerslagtigheid knyp my onverwags, begin ek wonder of God steeds besig is om te werk. Vandag herinner Hy ons dat hoop nie rus op omstandighede nie, máár op sy karakter.
Die woord "heeltyd" beteken dat God se planne nie ophou wanneer ek moedeloos raak nie. Selfs wanneer ek nie die groter prentjie sien nie, is Hy steeds getrou. Hoop is ’n daaglikse keuse; om te glo dat God nog nie klaar is met my en jou se stories nie. Elkeen se verhaal is uniek.
Wanneer ons gedagtes verdwaal in die rigting van vrees, nooi God ons om ons fokus terug te skuif na sy beloftes. ‘n Belofte is tog ‘n ernstige begrip. Jy hoef nie alles vandag reg te kry nie. Gryp net vandag met ‘n stywe handdruk vas, haal diep asem en weet die gewer van jou asem is reg langs jou! Riana Nel sing die volgende woorde só mooi: “Dis tyd om te lewe, vandag is more se gister.”
As doodgewone mense kan ons in die geselskap van hoop, elke dag ‘n nuwe deuntjie sing!
Gebed:
Here, help my om vandag doelbewus hoop te kies. Wanneer ek onseker voel, herinner my dat u planne goed is en dat my toekoms veilig is in u hande.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Die woord “heeltyd” herinner ons dat God in elke oomblik teenwoordig is. Nie net in gebed, Sondae of moeilike tye nie, maar selfs in ons werk, rus en wag. Om heeltyd met God te leef, beteken om elke dag met vertroue te stap, selfs wanneer ons nie alles verstaan nie, en om ons fokus steeds na Hom toe terug te bring. Sy leiding, teenwoordigheid en genade is konstant. Heeltyd beteken dat God altyd hier is, betrokke is en genoeg is om ons te dra, ongeag ons omstandighede.
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.felicia-lategan.com




