Advent: Die Reis Tot By KersfeesVoorbeeld
Bêre Dit
Daar is 'n oomblik te midde van die besige Kersnag waar die Bybel meld dat "Maria alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink [het]." Stel jou Maria voor wat elke besonderheid inneem. Haar babaseun is gebore. Josef is nog by haar. 'n Groepie skaapwagters kom daar aan met 'n verhaal van engele wat oor Jesus se geboorte juig en hulle vertel die hele dorp daarvan. Almal het die wonderwerk van haar Seun gevier. Dit was 'n spesiale oomblik van God se getrouheid. Sy het dit alles in haar hart bewaar.
Ons bêre dinge met 'n rede. Daar kom 'n dag wanneer ons dit wat ons gebêre het, nodig kry om ons aan die gang te hou wanneer ons in die nood is. Maria was bewus van die profesieë oor die Messias se offer en sou geweet het dat haar spesiale Kind eendag ongelooflike lyding sou ondervind. Toe sy aan die voet van die kruis gestaan het, het sy seker al die herinneringe wat sy oor God se getrouheid gehad het in herinnering geroep om net te bly glo in die belofte van Jesus se opstanding. Tydens haar grootste oomblik van pyn, kon sy terugdink aan al die bewyse dat God sou doen wat Hy belowe het.
Wanneer ons "bergpiek" ervarings van God se getrouheid aanskou, moet ons die ervaring vir later bêre. Jesus stel dit baie duidelik in Johannes 16:33: "In die wêreld sal julle dit moeilik hê." Hy sê egter ook dat ons moet moed hou, want Hy het die wêreld klaar oorwin. In die moeilikste tye van ons lewens moet ons die oorwinnings van Jesus onthou en al die kere wat ons sy goedheid gesien het. Wanneer jy God se getrouheid in jou lewe ervaar, bêre dit as 'n skat in jou hart. Dink dikwels daaroor. Op jou moeilikste dae sal jy dan soos Maria kan volhou.
Gebed: Vader, ek prys U omdat U getrou is. Ek het dit met my eie oë gesien en wil dit nie vergeet nie. Help my om daardie oomblikke wanneer ek u beloftes sien waar word het, doelbewus te bêre, sodat my geloof sterk kan wees wanneer die moeilike tye kom.
Aangaande hierdie leesplan
Kersfees is waarlik die grootste verhaal wat ooit vertel is: een van God se volmaakte getrouheid, krag, redding en onfeilbare liefde. Kom ons gaan die volgende 25 dae op reis om God se ingewikkelde plan te ontdek — om die wêreld van sonde te red en die belofte van die geboorte van sy Seun te vervul.
More