Advent: Die Reis Tot By KersfeesVoorbeeld

Advent: The Journey to Christmas

DAG 21 VAN 25

Die Wag Is Die Moeite Werd

Lukas 2:25-32 vertel die verhaal van Simeon, 'n man wat 'n belofte van God ontvang het dat hy die Messias sou sien voor hy doodgaan. Simeon het sy hele lewe lank gewag vir die vervulling van God se belofte — hy kan ons dus iets oor geduld en uithouvermoë leer. Die Skrif sê Simeon was "... getrou aan die wet en vroom ... en die Heilige Gees was op Simeon." Tot so 'n mate, dat hy deur die Gees gelei is om die tempel se voorhof te besoek en dit was daar waar God se belofte verwesenlik is. Hy het Maria en Josef ontmoet en Jesus in sy arms vasgehou. Dit was die moeite werd om 'n leeftyd vir daardie oomblik te wag. 

Stel jou voor hoe dit moes voel om die fisieke verpersoonliking van God se getrouheid in jou arms te kon hou. Lukas skryf dat Simeon vir Jesus in sy arms geneem en "God geprys" het. Ons weet nie of Simeon gehuil of gedans het nie, maar as jy jouself in sy plek voorstel, sou jy seker net soos hy reageer het. Geen ander reaksie as lofprysing sou gepas wees nie! 

Moenie moed verloor as jy al lankal aan 'n belofte van God vashou nie. Hy is getrou en sy tydsberekening is perfek. Of jou belofte binne weke of 'n leeftyd verwesenlik word, die uitkoms is die wag werd.

Gebed: Vader, ek prys U omdat U getrou is! Ek weet U is my vertroue waardig en dat u beloftes aan my waar is. Ek sal nie ophou om u beloftes te glo nie en ek wag in afwagting vir die dag wanneer hulle tot vervulling kom. Ek weet dat u tydsberekening volmaak is. Ek sal getrou aan U bly terwyl ek wag, en ek sal U voor die tyd al prys vir die vervulling daarvan!

Dag 20Dag 22

Aangaande hierdie leesplan

Advent: The Journey to Christmas

Kersfees is waarlik die grootste verhaal wat ooit vertel is: een van God se volmaakte getrouheid, krag, redding en onfeilbare liefde. Kom ons gaan die volgende 25 dae op reis om God se ingewikkelde plan te ontdek — om die wêreld van sonde te red en die belofte van die geboorte van sy Seun te vervul.

More

Baie dankie aan "Church of the Highlands" wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek: https://www.churchofthehighlands.com/