Advent: Die Reis Tot By KersfeesVoorbeeld
Navolging Lei Na Groei
In Lukas 2:22 lees ons hoe Maria en Josef die kind Jesus na die tempel in Jerusalem geneem het om hom tot beskikking van God te stel en die wette van die Here te gehoorsaam. Daarna lees ons dat Jesus verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem het (vanaf vers 40). Jesus het die voorbeeld gestel hoe ons moet lewe, maar dit kan onmoontlik lyk as ons net op die feit konsentreer dat Hy God was. Jesus was ook ten volle mens, en volgens die Skrif, het Hy die geleentheid gehad om te groei en te ontwikkel. Wat het egter aanleiding gegee tot die groei van ons Redder?
In ons huidige kultuur word ons oorlaai met selfhelp advertensies, wat ons vertel hoe ons ons liggame sterker kan maak, meer suksesvol in besigheid kan wees, hoe om depressie self te oorkom ... Vir net 'n paar rand kan ons meer leer en meer doen om onsself te verbeter.
Dis belangrik om kennis te neem dat die Woord van Jesus se groei praat, wat plaasgevind het terwyl Hy en sy gesin God geëer het. Daar is natuurlik stappe wat ons in ons eie krag kan volg om te groei, maar geen mate van selfhelp kon Jesus voorberei het vir die roeping van sy lewe nie. Geen mate van selfhelp sal ook die plek van God se genade in ons lewens kan inneem nie. Ons sien Christene op hul sterfbed met meer wysheid en krag as die mees suksesvolle selfhelp leiers en atlete. Ons kry nie wysheid en krag deur te probeer om onsself te help nie. Dit is 'n neweproduk van die feit dat ons God navolg en eer en sy lewensveranderende genade ervaar.
Fokus hierdie Kersseisoen op wat moontlik is as ons nader aan Jesus beweeg. Jy hoef nie te sukkel om aan onbereikbare wêreldse standaarde te voldoen nie. Rus in die wete dat ware wysheid en krag net kom as ons naby aan Hom is. As jy Hom elke dag navolg, sal jy groei en toegerus word vir jou doel op aarde.
Gebed: Dankie Vader, dat U die bron van my wysheid en krag is. U genade gee vir my hoop vir die toekoms. Ek weet dat U baie groter is as wat ek ooit kan wees en ek is so dankbaar dat U gewillig is om u krag met my te deel. Wanneer ek sukkel, help my om op U staat te maak en nie op myself nie.
Aangaande hierdie leesplan
Kersfees is waarlik die grootste verhaal wat ooit vertel is: een van God se volmaakte getrouheid, krag, redding en onfeilbare liefde. Kom ons gaan die volgende 25 dae op reis om God se ingewikkelde plan te ontdek — om die wêreld van sonde te red en die belofte van die geboorte van sy Seun te vervul.
More