Advent: Die Reis Tot By KersfeesVoorbeeld

Advent: The Journey to Christmas

DAG 22 VAN 25

God Se Hart Vir Die Hele Wêreld

Wyse manne was sterrewiggelaars en dit verduidelik hoekom God 'n ster gebruik het om hulle na Jesus toe te lei. Hy het geweet hoe om hulle aandag te trek. As sterrewiggelaars is dit heel moontlik dat die wyse manne in ons Kersverhaal towenaars was wat tekens en voortekens gebruik het om mag te verkry. Daar is baie teorieë oor die volksgroep en agtergrond van die manne uit die ooste, maar daar is een ding wat ons vir seker weet: Hulle was nie Jode nie. Hulle was heidene.

Vir eeue lank het mense aangeneem dat die Verlosser spesifiek sou kom om die Jode, God se uitverkore volk, te verlos. Dis 'n redelike aanname, want die omliggende heidennasies wat valse gode aanbid het, het hulle aanhoudend vervolg. Indien die Een ware God aarde toe sou kom om sy ewige koninkryk te kom vestig, was dit seer sekerlik vir die Jode se onthalwe.

Toe God egter die betekenis van Jesus se geboorte aan die wyse manne bekendgemaak het, kry ons ons eerste tasbare blik op sy begeerte om versoen te word met die hele wêreld, ongeag hulle agtergrond of vlak van sedeloosheid. Dit is 'n belangrike oomblik, spesifiek vir dié wat nie van Joodse afkoms is nie. Alhoewel Jesus van 'n suiwer Joodse afkoms is, en beslis gekom het om die volk wat Hy van die begin af uitverkies het, te verlos, het Hy ook gekom om alle mense terug te bring na 'n verhouding met hulle Skepper.

In Handelinge 15 erken die apostel Paulus dat die Heilige Gees nie meer onderskeid tref tussen Jood en heiden nie. Enigeen wat in Jesus glo word 'n uitverkore kind van God. Paulus gaan verder in Kolossense 3 en sê: "Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal." Jesus het dit in die sendingopdrag baie duidelik gemaak dat Hy wil hê alle nasies moet Hom ken. Sy hart klop vir die wêreld!

Gebed: Dankie Jesus, dat U gekom het om 'n wêreld te red wat U so lank misken het. Dankie dat U in 'n verhouding met my wou wees toe ek nog vol ongeregtigheid was en ver van U af gelewe het. Ek weet dat U die hele wêreld liefhet, en ek wil u hande en voete wees om hulle wat ver van U af is, te bereik. Gebruik my om u liefde na die nasies te neem.

Bronne: https://www.christianitytoday.com/history/2016/december/magi-wise-men-or-kings-its-complicated.html
Dag 21Dag 23

Aangaande hierdie leesplan

Advent: The Journey to Christmas

Kersfees is waarlik die grootste verhaal wat ooit vertel is: een van God se volmaakte getrouheid, krag, redding en onfeilbare liefde. Kom ons gaan die volgende 25 dae op reis om God se ingewikkelde plan te ontdek — om die wêreld van sonde te red en die belofte van die geboorte van sy Seun te vervul.

More

Baie dankie aan "Church of the Highlands" wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek: https://www.churchofthehighlands.com/