Die Pasgafees, Ongesuurde Brode en EerstelingsgerfVoorbeeld
DIE JOODSE KALENDER
“Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees” (Exodus 12:2 AFR53).
Die Jode werk volgens twee kalenders. ‘n Godsdienstige kalender en ‘n burgerlike (siviele) kalender. Die godsdienstige kalender is deur God bepaal (Exodus 12:2 AFR53) en die burgerlike kalender, ‘n sekulêre kalender, is op die landbou-seisoene gebaseer. In ons moderne wêreld gebruik ons vandag die Westerse kalender (Gregoriaanse kalender).
Wanneer ons die drie feesseisoene van oud-Israel in oënskou neem, en dit met vandag se kalender vergelyk, vind ons die volgende benaminge.
Tydens die Babiloniese ballingskap is die name van die oorspronklike godsdienstige kalender na burgerlike benaminge (Sien Ester 8:9; 12; 9:1 AFR53 ens) verander. Die Joodse kalender is ‘n maan–kalender, en is gebaseer op die beweging van die maan om die aarde. Hulle dag begin met sononder (Genesis 1) (ongeveer 18:00) en duur ook 24 uur. Dit neem die maan 29¼ dae om ‘n sirkel om die aarde te voltooi. Dus voltooi 12 maan–maande ongeveer 354 dae (een maanjaar). Andersyds, neem ‘n sonjaar elf dae langer as ‘n maanjaar, daarom voeg die Jode elke derde jaar ‘n maand (Adar-Sheni) van 29 dae by om by die sonjaar en die seisoene in te pas. Ons Westerse kalender (Gregoriaanse kalender) is ‘n sonkalender — dit word bepaal deur die tyd wat die aarde neem om om die son te draai. Die verskillende seisoene word veroorsaak deur die veranderde posisie van die aarde om die son. Dit neem die aarde 365 dae om ‘n sirkel om die son te voltooi. Elke vierde jaar (skrikkeljaar) word 1 dag bygevoeg sodat daardie jaar 366 dae lank is.
In die geval van oud-Israel was hul eerste godsdienstige maand (Abib) se naam gedurende die Babiloniese ballingskap verander na Nisan, die sewende maand op die burgerlike kalender. Dit stem ooreen met ons Westerse kalender, ongeveer 15 Maart tot 15 April. In daardie maand van die landbouseisoen word die garsoes ingesamel en die paasfees (pasga) dan gevier.
Die Here het vir Moses gesê: "Die feestye van die HERE ... dit is my feestye ... in die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here ..." (Levitikus 23:2-6 AFR53).
"En hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees, en julle moet dit as ‘n fees tot eer van die HERE vier. Julle moet dit in julle geslagte as ‘n ewige insetting vier ... Dit is ‘n paasoffer aan die HERE, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het" (Exodus 12:14, 27 AFR53).
"En op die eerste dag van die ongesuurde brode [Pasga] kom die dissipels na Jesus en sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons vir U klaarmaak om die pasga te eet? En Hy antwoord: Gaan na die stad na ‘n sekere iemand en sê vir hom: Die Meester laat weet: My tyd is naby. By jou sal Ek die pasga hou met my dissipels. Daarop het die dissipels gedoen soos Jesus hulle beveel het, en hulle het die pasga berei "(Matteus 26:17-19 AFR53).
Wanneer ons noukeurig let op die instruksies in Exodus 12 wat die Here God daardie eerste pasga aan die Hebreërs gegee het nadat Hy hulle uit slawerny uit Egipte gelei het, sien ons die volgende:
- Elke man moes vir sy huisgesin ‘n lam op die 10de van die eerste maand (Abib) Nisan kry. Dit moes ‘n lam sonder gebrek wees (Exodus 12:3-5 AFR53).
- Hierdie lam moes vir vyf dae bewaar word, waartydens daar seker gemaak is dat hy sonder gebrek is – dit moes deeglik ondersoek word (Exodus 12:6 AFR53).
- Op die 14de Nisan moes hierdie lam by die deurpos geslag word: verkieslik om 15:00 sodat dit teen 18:00 (die aanvang van die 15de dag) klaar geëet is (Exodus 12:6 AFR53).
- Die lam se bloed moes by die deurpos opgevang en aan die bo-drumpel en weerskante van die deur aan die twee deur-poste gestryk word (Exodus 12:7 AFR53). Die aanwending van die bloed aan die bo-drumpel en deur-poste vorm ook ‘n kruis.
- Die huisgesin moes dan deur hierdie deurposte die huis binnegaan, waar hulle beskerm was teen die verderflike plaag (doodsengel) wat deur die land sou trek – die plaag sou daar verbygaan (pass-over) (Exodus 12:13 AFR53).
- Die hele lam moes gebraai en geëet word: niks mag vir die volgende dag oorgebly het nie. Saam met ongesuurde brode en bitter kruie moes dit geëet word (Exodus 12:8-10 AFR53).
- Met die voorbereiding van die lam, mag sy bene nie gebreek word nie (Exodus 12:46 AFR53). Om ‘n lam te kon braai volgens hierdie voorskrifte, was dit nodig dat die lam aan ‘n spit vasgemaak word sodat die liggaam oor die vuur oopgesprei kon wees. Die spit sou noodwendig in die vorm van ‘n kruis wees.
- Geen onbesnede persoon kon aan die pasga deelneem nie. "En as 'n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die Here die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos 'n kind van die land wees" (Exodus 12:48 AFR53). Besnydenis was die uiterlike teken dat hierdie persoon nou in God se verbond is – ‘n bloedverbond. Hy was nou ook geregtig op die voordele van die verbond.
Neem ook kennis, nadat Israel hulle in hul land gevestig het en die tempel in Jerusalem gebou is, die plek wat God uitgekies het, het die mense die lammers na die tempel gebring en daar geslag in plaas van by hulle eie huise. Nóg later het die Leviete lammers in Jerusalem geteel en hulle dan tydens pasga verkoop aan diegene wat opgekom het om die fees te vier.
Aangaande hierdie leesplan
In hierdie leesplan ondersoek ons die eerste van drie heilige samekomste of feeste wat die Israeliete elke kalenderjaar ter ere van die Here moes onderhou.
More
Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/