Die Pasgafees, Ongesuurde Brode en EerstelingsgerfVoorbeeld

Die Pasgafees, Ongesuurde Brode en Eerstelingsgerf

DAG 7 VAN 7

DIE LAASTE PASGA – DIE HEILIGE NAGMAAL

Toe Jesus Christus saam met sy dissipels die pasga gevier het (Matteus 26:17-20 AFR53), het Hy aangekondig dat Hy op die punt staan om die afspraak na te kom wat sy Vader vir Hom gemaak het — deur die Pasgalam te word (Matteus 26:26-30; Lukas 22:14-22 - AFR53) “Want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Korintiërs 5:7 AFR53). In die Nuwe Testament word meer as 30 keer van Christus as die "Lam" melding gemaak.

Tydens die pasgamaaltyd is ongesuurde brode met bitter kruie geëet. Die brode was ongesuurde, ronde, plat koeke en het getuig van haas (Exodus 12:39 AFR53). Die bitter kruie herinner aan die bitterheid wat die volk Israel onder die Egiptenare beleef het. Die Egiptenare het hulle lewe bitter gemaak deur met klei swaar te werk in die maak van bakstene; en ook deur allerhande werk in die landerye (Exodus 1:14 AFR53). Vergelyk ook Johannes 19:29-30 (AFR53).

Vir die Nuwe Testamentiese gelowige is Jesus Christus ons paaslam. Elke gelowige in Christus se hart is besny deur die wedergeboorte (Johannes 3:1-7; Romeine 2:29; Filippense 3:3; Kolossense 2:11; Deuteronomium 10:16 - AFR53).

Ons Paaslam, Jesus Christus, het dan ook tydens die laaste pasga die Heilige Nagmaal ingestel (Matteus 26:26-28 AFR53). Die pasga is deur die Heilige Nagmaal vervang en dit moet tot die wederkoms van Christus gevier word (1 Korintiërs 11:26 AFR53). Wie deel het aan die Heilige Nagmaal, het deel aan die Nuwe Verbond, die Nuwe Testament, wat deur die bloed van Christus bekragtig is (Hebreërs 9:11-17 AFR53). Wie dus deel het aan die sakrament van die nagmaal, bely daarmee die versoenende sterwe van Jesus Christus en ook sy verwagte wederkoms (1 Korintiërs 11:23-32 AFR53). Die nagmaal is dus geen menslike instelling nie, maar het by Jesus Christus, tydens die laaste pasga, sy oorsprong.

Die nagmaal was eers ‘n voorskrif, naamlik die pasga, wat deur Christus se bemiddeling in die Nuwe Testament ‘n heilige sakrament geword het. Anders gestel: Die sakrament van die nagmaal is ‘n voorskrif wat ‘n verpligting geword het as gevolg van Christus se bevel en weens die verhouding daarvan met die sentrale, essensiële waarhede met betrekking tot saligheid. Die sakrament van die Heilige Nagmaal is dus ‘n heilige, sigbare teken wat deur Christus Jesus ingestel is om aan die mens sy belofte van vergewing van sondes te waarborg en hom dit beter te laat verstaan. Die gebruik van die nagmaal voed en onderhou ook ons geloof in Christus, die Paaslam.

Daarom mag ons nooit die woorde van onse Here Jesus Christus vergeet nie: “Neem eet, dit is my liggaam ... doen dit tot my gedagtenis; Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit tot my gedagtenis”. Christus het die nagmaal ingestel en Hy het dit gedoen in die nag waarin Hy verraai is, net voordat Hy as ons Paaslam geslag is (1 Korintiërs 5:7 AFR53).

Soos die pasga die Jood moes herinner aan die wonderlike redding uit Egipte, is die nagmaal die teken aan die Nuwe Testamentiese gelowige, wat ons aan die lyding en dood van Christus herinner, waardeur ons van die sondemag, die wêreld en die duiwel gered word. Die nagmaal herinner ons dus ook aan die bekragtiging van die Nuwe Testament (Lukas 22:20 AFR53). Ons het nou deel aan ‘n nuwe verbond – die Nuwe Testament wat Christus vir ons tot redding, verlossing en vergifnis deur sy kosbare bloed moontlik gemaak het.

Die Nuwe Testamentiese gelowige onderhou dus geensins die herdenking of herinnering van die pasga nie, maar wél die onderhouding van die nagmaal soos deur Christus, ons Paaslam, tydens die laaste pasga ingestel is.

Gólgota het nie net ‘n nuwe bedeling ingewy nie, maar ook ‘n nuwe begin vir dié wat verlossing deur die geslagte Lam gevind het (2 Korintiërs 5:17; Galasiërs 6:15 - AFR53).

Die dood en opstanding van Jesus Christus is vir ewig met die pasga en sy simboliek deurweef. Die pasgalam het vooruit gewys na die Lam van God wat sou kom.

Die verlossing uit Egipte het vooruit gewys na die groter verlossing wat Jesus Christus sou bring. Wat voorafgegaan het, was ‘n skaduwee van die dinge wat sou kom; die werklikheid word egter in Christus gevind.

Vir meer inligting en studies oor die boeke van die Bybel, besoek Raymond Lombard Ministries

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Die Pasgafees, Ongesuurde Brode en Eerstelingsgerf

In hierdie leesplan ondersoek ons die eerste van drie heilige samekomste of feeste wat die Israeliete elke kalenderjaar ter ere van die Here moes onderhou.

More

Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/