Volkome OorgaweVoorbeeld

Volkome Oorgawe

DAG 25 VAN 43

Lees: 1 Samuel 25

SOAP: 1 Samuel 25:23–24

Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy gou van die donkie af afgespring en vir Dawid eerbiedig gegroet. Sy het diep gebuig voor hom en gesê: “Verskoon tog die onreg, Meneer! Mag ek vertroulik met u praat? Luister tog na my woorde.”

Oordenking

Abigajil, wie se naam "wys" beteken, was getroud met 'n man wie se naam "sinneloos" beteken. Abigajil, soos die meeste vroue destyds, het nie 'n keuse gehad met wie sy kon trou nie, maar sy sou deur haar pa aan Nabal gegee word in ruil vir geld of arbeid. As ons hierdie gedeelte in die oorspronklike Hebreeus lees, sou ons dadelik die tweespalt tussen Nabal (dwaas) en sy vrou, Abigail (wys) sien. Nabal was selfsugtig, gierig, reaksionêr en het wêreldse plesier bo eerbetoning aan diegene met gesag verkies. Sy dienaars het geen respek vir hom gehad nie en hy het nie omgegee dat sy optrede ander in gevaar stel nie.

Abigajil se interaksie met die veewagter het getoon dat sy vriendelik, betroubaar, bedagsaam en vrygewig was. Sy het haar lewe op die spel geplaas om diegene in haar huishouding en onder haar gesag te beskerm. Haar dienaar het vrymoedig met haar gepraat, vol vertroue dat sy die omstandighede wat Nabal oor hulle gebring het, sou kon verander.

Terwyl Nabal homself beter as almal beskou het, het Abigajil haarself voor Dawid verneder. Sy het dapperheid in die gevaarlike situasie getoon toe sy die toekomstige koning genader het, nie net met geskenke nie, maar ook met wysheid. Om vir Dawid te vra om die lewe van haar man te spaar, sou nie genoeg gewees het om hom te oorreed nie. In plaas daarvan het Abigajil wysheid aan die dag gelê en vir Dawid gevra om sy eie toekoms te oorweeg. Dawid sou beslis nie 'n skuldige gewete wou hê en spyt wees dat hy reg in eie hande geneem het in plaas daarvan om God te vertrou nie.

Deur 'n beroep te doen op Dawid se begeerte om God te eer, deur hom met wysheid en moed te nader, en deur Dawid se manne aan te bied wat Nabal geweier het om aan hulle te gee, het Abigajil vir Dawid beïnvloed om van plan te verander. Sy het haar gesin gered, teruggekeer huis toe en gewag vir die regte tyd om die nuus met Nabal te deel. Na Nabal se skielike dood kon Abigajil vinnig, respekvol en eerbaar Dawid se vrou word.

Nederigheid word dikwels met swakheid of sagtheid verwar, maar ons kan uit Abigajil se voorbeeld leer dat nederigheid dikwels groot moed, wysheid, krag en opoffering vereis. Wanneer die wêreld ons aanmoedig om vir ons individuele regte en vryhede te veg, kan dit moeilik wees om diegene met gesag te eer en te respekteer. Tog, wanneer ons, soos Abigail, met liefde en vrygewigheid reageer in plaas van harde woorde of selfsug, kan God ons as die katalisator vir die verandering gebruik wat ons gemeenskap nodig het.

Dag 24Dag 26

Aangaande hierdie leesplan

Volkome Oorgawe

Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/