Volkome OorgaweVoorbeeld

Lees: Lukas 1:26–38
SOAP: Lukas 1:38
Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan.
Oordenking
Maria was ‘n vrou wat haar aan God se wil onderwerp het en haar planne opgeoffer het om aan die Here gehoorsaam te wees. Maria is deur God gekies om iets te doen waartoe niemand op aarde ooit geroep was of ooit weer geroep sal word om te doen nie. Ten spyte van hierdie lewensveranderende aankondiging van ‘n engel van die Here was Maria dapper. Sy was verward en ontsteld en het gewonder wat die engel se begroeting kon beteken. Daar word niks verder uitgebrei oor Maria se gedagtes of gevoelens op daardie tydstip nie. Selfs al het sy vrae gehad, was sy bereid om haar lewe aan God se wonderbaarlike plan oor te gee.
Elke “ja” wat ons op een uitnodiging antwoord, beteken dat ons “nee” sê vir dosyne ander opsies en geleenthede. Toe Maria vir God “ja” gesê het, het sy “nee” gesê vir ‘n eenvoudige, ongekompliseerde en tipies-kulturele toekoms wat sy saam met Josef beplan het. Dit het beteken dat sy “nee” gesê het vir ‘n lewe wat vir haar gemeenskap en familie bekend was. Maria se geloof het haar sonder huiwering laat “ja” sê, sonder al die antwoorde en sonder om te weet wat die toekoms sou inhou.
God se genade is so groot dat Hy Elisabet se onverwagte swangerskap beplan het om perfek met Maria s’n saam te val. Elisabet se swangerskap was verrassend, Maria s’n wonderbaarlik. Maria het ‘n familielid gehad na wie toe sy kon gaan, iemand wat ook ‘n spesifieke roeping van die Here ontvang het. God het gesorg dat albei vroue ‘n vriendin het om op te steun. Toe Maria haar lewe en toekoms aan die Here oorgegee het, het Hy haar nie sonder ondersteuning en gemeenskap gelaat nie.
God het van die begin af verklaar dat gemeenskap belangrik is. Ons is nie bedoel om alleen deur die lewe te gaan nie. Hulle familie en bure sou dalk sê dat Elisabet se swangerskap te laat gekom het en Maria s’n te vroeg, maar God het hierdie ongelooflike gebeurtenisse doelbewus so beplan.
Om vir die onbekende “ja” te sê, maak ‘n mens benoud. Wanneer ons egter soos Maria vertrou en glo dat God vir en met ons is, kan ons ons met vertroue aan sy wil oorgee en ons planne moedig opoffer. As God ‘n nuwe pad vir jou toekoms uitlê, kyk om jou na die vroue wat al voor jou uit gegaan het. Soek die gemeenskap, al is dit net een vrou, wat saam met jou sal stap as jy vir God “ja” sê.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/