’n Nuwe rigtingVoorbeeld

’n Nuwe rigting

DAG 2 VAN 7

Daar ís ’n God. En gelukkig … hoef dit nie jý te wees nie!

Dis makliker gesê as gedaan om regtig met oorgawe op jou Vader te steun en in volkome afhanklikheid van Hom te leef. Want ons wil mos maar eintlik self in beheer wees! Om onsself heeltemal aan ons Vader se wil en sy bestuur van ons lewens oor te gee, beteken as’t ware dat ons die sleutels van ons lewe vir Hom gee en sê: "Here, bestuur U maar. Ek ry saam!"

Die meeste van ons kry dit reg om so nou en dan ons lewensleutels aan Hom te oorhandig net om dit kort-kort uit sy hande te neem en maar weer self agter die stuurwiel in te skuif. Ander kere weer ry ons so lekker rustig op ons voorspoedpad dat ons nie dink dit is nodig om die beheer vir Iemand anders oor te gee nie.

Die waarheid is dat daar ’n God is wat elke kilometer van jou lewensreis ken. Nie net die dele wat verby is nie, maar ook elke stukkie van jou toekomspad. Hy weet nou al wat jy môre nodig gaan hê en hoe Hy jou kan help om die regte koers in te slaan om jou eindbestemming te bereik.

Daar is ’n God wat jou lewe wil bestuur. En gelukkig hoef dit nie jý te wees nie!

Neem my lewe, laat dit, Heer, U gewy wees meer en meer. Amen

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

’n Nuwe rigting

Ons is almal bang vir die onbekende. Daarom is ons maar altyd versigtig vir enige verandering en voel ons maar gou onveilig wanneer ons ’n onbekende roete moet volg. Gelukkig weet God dit. Milanie Vosloo kom verseker jou vandag dat Hy die bang-onseker van ons harte ken en verstaan. Juis daarom belowe Hy in sy Woord dat Hy sáám met ons op ons onbekende paaie sal loop.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/