’n Nuwe rigtingVoorbeeld

’n Nuwe rigting

DAG 5 VAN 7

Enige plek. Enige tyd. Enige gebed.

Jesus het so baie dinge kom verander. Soos om ons toegang tot God te vergemaklik. Vandat Hy hier tussen ons geleef het, hoef ons nie meer net heiligdomme te besoek om met Hom te praat nie, ons kan letterlik elke oomblik saam met Hom lééf.

Natuurlik is dit vir ons geestelike groei noodsaaklik om plek in ons dag te maak vir toegewyde Woordlees- en gebedstye. Maar hoe wonderlik dat ons nie nét dan tot ons Here hoef te nader nie; dat ons dwarsdeur ons gewone mensweeslewens sommer net met Hom kan praat, sommer net kan wéét: Hy is bý my. Hy is bý my op die mees ongewone plekke en tye; Hy is bý my wanneer ek stoei met probleme, bang is vir die toekoms, onseker voel oor wat ek moet doen, met my gewone dagtaak besig is … wanneer ek sommer net die lewe geniet.

Jesus het ons verhouding met God kom nuut maak. Hy het letterlik in ons gewone wêrelde kom inbreek sodat ons hele lewe ’n gesprek met Hom kan wees. Hoe wonderlik dat jou Here ook vandag heeldag bý jou gaan wees. Dat Hy op hierdie oomblik in jou ís.

Gees van God, ek wil vandag heeldag met U praat. Heeltyd u stem hoor. Deurentyd u liefde ervaar. Amen

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

’n Nuwe rigting

Ons is almal bang vir die onbekende. Daarom is ons maar altyd versigtig vir enige verandering en voel ons maar gou onveilig wanneer ons ’n onbekende roete moet volg. Gelukkig weet God dit. Milanie Vosloo kom verseker jou vandag dat Hy die bang-onseker van ons harte ken en verstaan. Juis daarom belowe Hy in sy Woord dat Hy sáám met ons op ons onbekende paaie sal loop.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/