Ons Berei Ons Harte Voor Vir Paasfees: 'n Oordenking Tydens LydenstydVoorbeeld

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

DAG 23 VAN 40

"Dag 23: Die Gees"

In die laaste gedeelte van ons teksverse in Jesaja sluit ons af met 'n skrifgedeelte wat hoop bied vir 'n hervorming wat deur die Gees gelei word. Die Here se gesalfde, wat in vorige hoofstukke as beide koning en dienaar beskryf is, het goeie nuus gebring vir die armes, die gebrokenes van hart, die ballinge en die wat in die tronk is. Hierdie gesalfde een is beide 'n dienaar wat deernis het vir die wat in nood verkeer en ook 'n koning wat die mag het om hervorming teweeg te bring.

Dit is moeilik om die skrifgedeelte te lees en nie 'n verlange en gevoelens van vreugde en hoop te hê nie. Ons harte hunker na die hoop dat ons rou kan verander na prag, blydskap, prys, geregtigheid en heerlikheid. Ons lewens is baie anders as dié van die Jode wat in ballingskap was, tog spreek hierdie skrifgedeelte tot diep in ons wese en ontnugterde harte. Ons vereenselwig onsself met hulle, want ons is ook verarmd, gebroke, vervreemd en vasgevang in ons mensgemaakte gevangenis. Ons soek na iets of iemand wat ons kan red van die penarie waarin ons onsself bevind. Ons kan nie ons lewe met ons eie intelligensie, geld of wilskrag beheer nie. Wie is hierdie gesalfde wat ons laat glo dat ons nie alleen gelaat en oorgelaat is aan ons eie patetiese, nuttelose probeerslae nie?

Van al die Ou Testamentiese skrifgedeeltes wat hy kon gebruik het om sy bediening mee af te skop, kies Jesus om hierdie gedeelte in Jesaja te lees. Hy sluit af met die gewaagde stelling “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul” (Lukas 4:21). Terwyl jy oor al die dinge dink wat jou alleen en magteloos laat voel, moet jy onthou dat die hoop van verandering waarvan daar in Jesaja gepraat word, reeds plaasgevind het. Jesus is die langverwagte vervulling van die hunkering in ons harte.

Gebed

Hemelse Vader, wat ek nie op my eie kon doen nie, het u deur Christus, die gesalfde gedoen. Tog plaas ek my hoop vir verandering in alles behalwe u. Ek maak elke dag staat op my eie vermoëns. Help my om die volheid van wat Christus gedoen het raak te sien, sodat ek my hoop in hom kan plaas en genesing, vryheid en tevredenheid kan ervaar wat hy so genadiglik gee. In Christus se Naam, Amen.

Kopiereg (c) 2012 deur Redeemer Presbyterian Church.
Dag 22Dag 24

Aangaande hierdie leesplan

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

Wat is die Lydenstyd? Dit is die tyd wanneer ons in afwagting is vir die oorwinning wat die lig en lewe van Christus oor die duisternis van sonde en dood gebring het. Soos ons die gebeure volg van Aswoensdag tot Paasfees, word ons herinner aan die werklikheid van ons swakheid en God se verlossende genade.

More

Hierdie oordenking is geskep deur die personeel van die Redeemer Presbyterian Church en is oorspronklik geplaas op die webblad www.redeemer.com in 2012. Word gebruik met toestemming.