Wees Oor Niks Besorg Nie Voorbeeld

Wees Oor Niks Besorg Nie

DAG 6 VAN 7

Geloof in Jesus

Ons lees hierdie woorde ook in Johannes 3:16: “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Die term “in Hom glo” verskil aansienlik van “aan Hom glo”. Om aan iemand te glo, beteken net jy erken sy bestaan, maar om in iemand te glo, is ’n uitspraak oor sy karakter en betroubaarheid. Wanneer jy in iemand glo, wend jy jou tot daardie persoon. Jy vertrou hom met jou waardevolste besittings. Ons glo aan almal om ons – ons kan sien hulle bestaan, want ons het met hulle te doen – maar ons glo in baie min mense. Die geloof waarvan die Bybel praat – die geloof wat saligheid bring – is nie geloof aan Jesus nie, maar geloof in Hom.

’n Mens kan baie jare in die kerk wees en heeltemal bereid wees om aan Jesus te glo sonder dat jy ooit in Hom glo. Wanneer jy in Hom glo, stel jy nie net jou vertroue in Hom nie, maar jy verlaat jou totaal op Hom. Jy vertrou Hom en is onderdanig aan Hom. Om Hom nie te vertrou nie en nie onderdanig te wees aan Hom nie, beteken dat jy nie in Hom glo nie. Om nie in Hom te glo nie, beteken dat jy nie die ewige lewe het nie en steeds verlore is. Jy kan glo dat Hy die Saligmaker is en dat Hy die Seun van God is, en steeds net aan Hom glo. Maar wanneer jy jou lewe voor Hom neerlê, is dit vir seker geloof in die Seun.

Kyk na jou lewe om uit te vind of jy in of aan Jesus glo.

Vader, openbaar my hart dat ek kan wéét waar ek staan.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Wees Oor Niks Besorg Nie

Is jy op soek na vrede? ’n Kalm oomblik te midde van die chaos? Riekert Botha se raad om ons woeste wêreld te navigeer, is reguit: Fokus op Jesus. Jy kan rus in die wete dat Jesus jou krag is en dat Hy al is wat jy nodig het. Hý is jou stilte in die storm. Hierdie 7-dag-leesplan is saamgestel uit WEES OOR NIKS BESORG NIE.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/