Volkome OorgaweVoorbeeld
Lees: Lukas 2:36–40
SOAP: Lukas 2:37–38
... na haar man se dood het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid. Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het.
Oordenking
Wat is die langste tyd wat jy jouself al aan iets verbind het? Studies toon dat die meeste mense wat 'n besluit neem om iets nuuts aan die begin van die jaar te doen, vir hoogstens dertig dae daarby hou. Selfs ons beste voornemens, soos om meer tyd in God se Woord deur te bring, by 'n Bybelstudie aan te sluit of onsself aan gebed toe te wy, gaan dikwels goed vir 'n paar weke totdat die lewe druk word, programme besig raak, seisoene verander, familielede siek word, of ons eenvoudig vergeet.
Vir vier en tagtig jaar het Anna by die tempel gebly en die Here aanbid. Op die ouderdom van ongeveer 105 jaar het sy dag en nag bly bid. Waar ander weduwees dalk ’n nuwe eggenoot probeer kry het of by ’n familielid ingetrek het, het Anna gekies om haar hele lewe aan God te wy. Sy het so 'n diep verhouding met die Here ontwikkel deur haar tyd in gebed dat sy presies geweet het wie Jesus was toe Maria en Josef Hom in die tempel ingebring het. Met vrymoedigheid het sy aan die mans en vroue in die tempel verklaar dat dit die hoop was waarop hulle gewag het! Dit was die Christus, die Messias!
Gebed is ons uitnodiging om met God te kommunikeer, maar dit is nie 'n eenrigtinggesprek nie. Ja, God wil van jou hoor. Hy ken jou en gee om vir jou. Maar gebed is ook 'n geleentheid om nader aan God te groei en meer te leer oor wie Hy is. Anna se verhouding met God het so intiem gegroei omdat sy haar lewe daaraan gewy het om Hom te ken. God het sy plan op 'n baie spesiale manier aan Anna geopenbaar. Terwyl Hy dalk nie vir ons dieselfde soort openbaring gee nie, praat Hy met ons deur sy Woord en die Heilige Gees. Hoe meer ons tyd in gebed, aanbidding en die lees van God se Woord bestee, hoe meer leer ons Hom ken.
Soos enige vaardigheid wat ons wil bemeester, verg gebed oefening. Dit verg geduld en fokus en nederigheid om alles wat ons is – gebroke, onseker, eensaam, vreugdevol, hoopvol, sondig – voor God te bring. Dit sal nie altyd maklik of gemaklik wees nie. Ons sal nie altyd welsprekend praat nie en ons kan dae hê wanneer ons eerder 'n miljoen ander dinge wil doen. Maar, aan die einde van ons dae, mag ons bekend wees vir ons aanbidding en gebed. Mag ons so 'n hegte verhouding met God ontwikkel dat wanneer ons Hom aan die werk sien, ons sy hand dadelik, sonder enige twyfel sal herken.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/