Volkome OorgaweVoorbeeld
Lees: Genesis 29:31—30:24
SOAP: Genesis 30:22–24
God het op Ragel ag geslaan en haar gebed verhoor. Hy het haar nie langer kinderloos gelaat nie. Sy het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring en toe sê sy: “God het my skande weggeneem.” Toe noem sy die seun Josef, “want,” het sy gesê, “die Here sal my nog 'n seun gee.”
Oordenking
Niks wat ons kan doen kan God se planne verhinder nie, maar soms maak ons keuses dinge ingewikkeld. In ons Skrifgedeelte vandag ontmoet ons vir Ragel en Lea, Jakob se vrouens. Sover dit manipulasie aangaan, het Jakob ‘n groot bydrae gelewer. Hy het probeer help om God se plan te laat uitwerk deur sy broer Esau uit sy geboortereg en hul vader se seën te verkul. Jakob het toe, om aan Esau se wraak te ontkom, na Haran gevlug om onder sy oom Laban se dogters ‘n vrou te gaan soek.
Toe Jakob daar aankom, het hy Ragel by die put gesien, op haar verlief geraak, en aangebied om sewe jaar vir Laban te werk om met haar te kan trou. By die bruilofsfees het Laban vir Jakob bedrieg en in plaas van Ragel, sy oudste dogter, Lea, vir hom gegee. Jakob is ‘n week later met Ragel ook getroud en het toe nog sewe jaar vir sy tweede bruid vir Laban gewerk. (Die drama!)
Jakob het Ragel liefgehad, maar nie vir Lea nie. Die Here was vir Lea jammer en het haar vier seuns laat kry. Uit jaloesie oor haar suster se groeiende gesin, het Ragel deur haar slavin ‘n gesin probeer bou. Haar slavin het twee seuns vir Jakob in die wêreld gebring. Toe het Lea se slavin egter twee seuns vir Jakob voortgebring en Lea het self aan nog twee seuns geboorte geskenk. Die Skrif sê dat God eers na die geboorte van Jakob se elfde kind op Ragel ag geslaan het en sy toe haar eie seun, Josef, gehad het.
Anders as die verhaal van Hanna, word daar geen melding gemaak dat Ragel gebid het, haar hart voor God uitgestort het, of te midde van haar pyn geloof probeer bewerkstellig het nie. In plaas daarvan, het sy vir haar man gesê: “Gee vir my seuns, anders sterf ek!” (Genesis 30:1) Selfs in die deurmekaarspul was God steeds aktief deel van haar verhaal. God het op haar ag geslaan en aan haar haar eie seun gegee. Na die geboorte van haar eerste seun het Ragel verklaar dat God haar gebede verhoor het. God is die held, nie Ragel, haar swak planne of haar man nie. God het haar geroep gehoor, en net Hy het die eer ontvang.
God hoor ons geroep ook. Selfs wanneer ons dink ons manier of ons tydsberekening is beter. Selfs wanneer ons uit vrees in plaas van geloof optree. God het ‘n doel vir ons lewens, en ons pogings tot kortpaaie en ompaaie kan nie God se planne ontwrig nie. Kom ons word nederig onder die hand van die Een wat ons geroep hoor, en gee al ons bekommernisse aan Hom oor terwyl ons op sy tydsberekening en sy antwoord vertrou.
Aangaande hierdie leesplan
Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/