Wanneer Ek Voel Ek Is Nie Goed Genoeg NieVoorbeeld
Wanneer ek voel ek is nie goed genoeg nie
Wie kwalifiseer?
In die oë van God kwalifiseer ons almal om deur Hom gehelp en liefgehê te word. Hy is die God van hoop. Hy is die genadige en barmhartige God. Hy is die God wat vergewe, nie meer aan ons sonde dink nie en wat heelmaak en genees. Hy is die God wat weer nuut maak. Die God van nuut begin. Hy is die vriend van tollenaars en sondaars (Matteus 9:10-13 en Lukas 15:1).
Hy is die God wat ons skaduwee is. Dink daaraan: ons skaduwee. Volgens Psalm 91:1-2 (AFR53) mag ons in sy skaduwee sit, maar soms kies Hy, die soewereine God, om ons skaduwee te wees: "Die Here is jou skaduwee aan jou regterhand” (Psalm 121:5).
Hy los ons nooit, maar kom loop saam met ons en identifiseer met ons. Hy is nie verleë om ons God te wees nie. Daar is nie tye dat God skaam is vir ons en nie saam met ons gesien wil wees nie.
Jou sonde en gebrokenheid kan God nie verras nie. Jou sonde en gebrokenheid kan nie dieper wees as daar waar God se genade jou kan uithaal nie.
God het sy Seun gegee sodat nie een van ons ’n jammerlike, tweedeklas Christen hoef te wees nie.
Jesus is ons Middelaar en Hoëpriester, die Regverdige — die een wat ons van ons sondes verlos en medelye het met al ons swakhede. God wéét dat ons van stof gemaak is, trouens, Hy het ons gemaak. Maar God is groter as ons swakhede en sondes. Ons sondes en swakheid intimideer Hom nie. Dit plaas Hom nie in ’n verleentheid nie. Hy staan nie hulpeloos en hande vryf omdat Hy nie weet wat om met ons te doen nie. Nee, Hy is ons sterk Verlosser. Hy is ons Helper. Hy het vir ons ’n paaslam voorsien. Hy is vir ons soos die skaduwee van ’n groot rots in ’n kaal wêreld — die Vader wat Hom ontferm. Hy is die spreekwoordelike balsem van Gilead, die genesing vir elke wond en siekte (Jeremia 8:22). Sý wonde het dit moontlik gemaak.
Aangaande hierdie leesplan
So baie mense voel onwaardig om kinders van God genoem te word. Hulle voel hulle is nie goed genoeg nie. Hulle verlede maak dat hulle nie kan glo God het hulle lief en dat Hy steeds 'n plan vir hulle lewe het nie. Hierdie leesplan sal jou help om op 'n ander manier na jouself te kyk.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com