Veilig in sy handVoorbeeld

Veilig in sy hand

DAG 3 VAN 7

Onder sy vleuels

Hierdie besondere beeldspraak in die pragtige Psalm 91 kan ek goed verstaan. Dit neem my gedagtes jare terug toe ek op ’n kleinhoewe gewoon het. Daar was ’n stukkie land wat ek van tyd tot tyd met my trekker bewerk het.

Op die spesifieke dag het ek met ’n kapploeg agter die trekker op die land gewerk. Ek sien toe in die middel van die land is ’n kiewiet wat op haar nes sit – waarskynlik met eiers of klein kuikentjies. Ek kon nie my werk uitstel nie, maar wou ook nie oor die nessie ploeg nie. Ek het gedink dat die kiewiet sou padgee as ek nader kom en dan sou ek weerskante van die nessie kon ploeg.

Ek het egter onseker en half-angstig geword hoe nader ek aan die nessie gekom het. Die kiewiet het haar vlerke effens opgelig, maar onwrikbaar bly sit. My laaste rondte op die landjie het my binne 30 cm van die nes gebring. Die kapploeg het geraas en die kluite het gespat, maar die kiewiet het geweier om pad te gee! Dae later het ek haar op die land met haar klein kuikentjies gesien. Haar ongelooflike moedersinstink het my verwonderd gelaat.

Nou sê die psalmis: “Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil” (Psalm 91:4 AFR53). Hierdie beeldspraak dui nie op die kwesbaarheid van die voëltjie nie, maar op die hoogste en edelste vorm van sorg, liefde en beskerming.

Hoe wonderbaar is die liefde, beskerming en sorg van die Skepper wat hierdie instink in sy skepsels ingebou het nie? God is nie swak en weerloos nie!

Wie sal waag om my uit u hand te ruk? Amen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Veilig in sy hand

Die lewe is beslis nie altyd maklik nie en ons as mense is beslis kwesbaar! Isak Burger kom verseker ons dat ons op God se edele sorg, liefde en beskerming kan staatmaak, want ons is vir Hom kosbaar. Dis wonderlik om te weet ons is veilig in sy hand. Hy is die Rots waarop ons huis veilig is, ongeag die winde en storms van die lewe.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us