Veilig in sy handVoorbeeld

Níks kan ons uit sy hand ruk nie
Die ewige lewe is die kosbaarste gawe; ’n gawe wat net die Here kan gee. Daarom is dit die één ding wat die Satan die graagste van die mens wil weerhou en die hardste probeer om ons van te beroof. Dit is egter net nóg ’n ding wat Satan nie kan doen nie.
Let wel, daar is baie dinge wat die duiwel wél met die gelowige kan doen. Hy kan jou met versoekings teister — dit het hy selfs met Jesus probeer. Hy kan struikelblokke op jou pad plaas — dink byvoorbeeld aan Paulus se woorde in 1 Tessalonisense 2:18 waar hy sê dat die Satan hom verhinder het om die Tessalonisense te besoek. Hy kan gelowiges mislei en misbruik – dink aan Petrus wat in Matteus 16:23 deur Jesus bestraf moes word omdat hy toegelaat het dat die Satan hom probeer gebruik om Jesus van die kruis af weg te hou; hy kan ons laat twyfel, intimideer, vreesagtig maak, in sommige gevalle selfs siek maak en smarte aandoen, en vele meer.
Die Satan kan ons egter nié uit die hand van die Here ruk nie. Jesus sê niémand, kan dit regkry nie.
Jesus het self só op die krag en beskerming van sy Vader vertrou dat sy laaste woorde na die smartlike ses ure aan die kruis ons verseker: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” (Lukas 23:46 AFR53).
Ek en jy is veilig in sy hande. Die Satan kan ons nié uit sy hande ruk nie.
Here, ek is veilig in u hand. Amen.
Hierdie oordenkings is geneem uit VEILIG IN SY HAND deur Isak Burger © Christelike Uitgewersmaatskappy
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Die lewe is beslis nie altyd maklik nie en ons as mense is beslis kwesbaar! Isak Burger kom verseker ons dat ons op God se edele sorg, liefde en beskerming kan staatmaak, want ons is vir Hom kosbaar. Dis wonderlik om te weet ons is veilig in sy hand. Hy is die Rots waarop ons huis veilig is, ongeag die winde en storms van die lewe.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us