Veilig in sy handVoorbeeld

Die Bybel – die bouplan vir my lewenshuis
In Matteus 7:24-27 het Jesus ons lewens vergelyk met ’n huis, sommige is op rots gebou en ander op sand. Die klem val nie op hoé die huis lyk nie, maar op die fondament, naamlik rots of sand.
In vandag se Skrifgedeelte word ons lewens ook vergelyk met ’n gebou, met spesifieke verwysing na die belangrikheid van die fondament. In vers 11 sê Paulus wat die fondament in ’n gelowige se lewe is, of veronderstel is om te wees. Die ware en regte fondament is nie godsdiens of opvoeding of morele waardes nie, al is dit hoe belangrik. Die ware fondament van ons lewenshuise is ’n Persoon, naamlik Jesus Christus. Hy is die Rots waarop ons huise veilig sal wees, ongeag die winde en storms van die lewe. Dit is belangrik, want die meeste van ons tradisionele fondamente word in hierdie dae geskud.
Die konstruksie sélf is ook belangrik. Vers 10 sê: “Elkeen moet oppas hoe hy daarop bou.” ’n Ordentlike huis word volgens ’n plan gebou. Die bouplan vir ons lewenshuis is die Bybel. Jesus se woorde in Matteus 7:24 (AFR53) bevestig dit: “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.” Die woorde van die Here, waarvan daar so baie in die Bybel opgeneem is, is die veiligste bouplan vir jou lewenshuis.
Vir my is dit een van die beste verduidelikings of beelde in die Bybel — en dit is God se bouplan.
U is my fondament en u Woord is die bouplan vir my lewenshuis. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Die lewe is beslis nie altyd maklik nie en ons as mense is beslis kwesbaar! Isak Burger kom verseker ons dat ons op God se edele sorg, liefde en beskerming kan staatmaak, want ons is vir Hom kosbaar. Dis wonderlik om te weet ons is veilig in sy hand. Hy is die Rots waarop ons huis veilig is, ongeag die winde en storms van die lewe.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us