Wanneer Jy Skaam en Vernederd VoelVoorbeeld

Wanneer Jy Skaam en Vernederd Voel

DAG 1 VAN 7

DAG 1:

"Een ding weet ek vas en seker: Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie" (Romeine 8:38 NLV).

Het jy al ooit iets gedoen waaroor jy skaam is, of waaroor jy vernederd voel? Ongelukkig is dit ook soms so dat ons skaam en vernederd voel as gevolg van ander se verkeerde optrede teenoor ons.

Wel, ek dink eintlik alle mense op hierdie aarde het al iets gedoen waaroor hulle eintlik skaam is. Ongelukkig bepaal ons skaamte soms hoe ons in sekere situasies optree. Dis hierdie emosie wat soms die dryfveer is agter ons verkeerde optrede en voor jy jou kom kry, voel jy minderwaardig oor jouself.

Byvoorbeeld, ek dink ek is iemand wat baie omgee vir mense en wat graag wil help. Dis die positiewe deel van hierdie eienskap. Ek het ‘n passie om jou te laat glo en verstaan dat Jesus jou vreeslik lief het en dat Hy jou wil genees; dat Hy uitkoms gee in elke krisis wat jy mag hê en dat daar by Hom vreugde en oorwinning is, al lyk jou omstandighede ook hoe!

Maar daar is ook ‘n negatiewe deel van hierdie eienskap. Jy sien, ek is baie jare gelede geskei en was vir baie lank diep skaam voor die Here daaroor. In my kop was hierdie die grootste sonde ooit. Wanneer iemand my gevra het vir hulp en ek nie dadelik by hulle kon uitkom, of die hulp gee wat hulle eintlik wil hê of nodig het nie, dan het ek sommer gou gevoel ek is nie goed genoeg nie. Die aanklag van die Satan was dan gereeld in my kop: “Jy sê jy is ‘n volgeling van Jesus, maar jy is dan geskei. Jou woorde of hulp beteken niks vir ander nie. Kyk, jy kan hulle dan nie help nie.”

Gelukkig het Jesus my van hierdie leuen van die Satan kom verlos. Hy het mos juis aan die kruis gesterf vir die hele mensdom se sonde! Die prys is klaar betaal. By Hom is daar nie ‘n groot of ‘n klein sonde nie. Sonde is sonde. Gelukkig kan jy weet, dat sodra jy Jesus in jou hart innooi, jy dadelik skoongewas is deur sy bloed.

Ek bid dat jy sommer nou vir Jesus in jou hart innooi. Mag jy ook ervaar hoe Hy jou skaamwees wegvat.

GEBED:

My Hemelvader, ek kom lê vandag my skaamte en vernedering voor U voete neer. Ek kies om U in my lewe in te nooi. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Wanneer Jy Skaam en Vernederd Voel

Sonde veroorsaak dat ons dikwels skaam en vernederd voel. Dan sukkel ons om Bybel te lees, of te bid. Kom ontdek vandag God se liefde vir jou en ervaar hoe Jesus Christus se vergifnis ook vir jou beskikbaar is.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.sonjagoldberg.co.za