Wanneer Jy Skaam en Vernederd VoelVoorbeeld

Wanneer Jy Skaam en Vernederd Voel

DAG 2 VAN 7

DAG 2:

"Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie" (Genesis 2:25 AFR83).

Die eerste keer waar ons van skaamte lees in die Bybel, is met Adam en Eva.

Hulle het mos in die volmaakte tuin van Eden gewoon. God het elke dier met ‘n sekere soort bedekking geskep: Die bere het ‘n pels, die voëls het vere en die visse skubbe. Adam en Eva het die wonderlike voorreg gehad om direk onder God se bedekking te leef. Hulle is die perfekte voorbeeld van hoe dinge gelyk het voordat “skaamte” ingeglip het. Niks om weg te steek nie, niks waaraan hulle swaar gedra het nie. Sorgvry! Hulle kon net die seëning en mooiheid van God se skepping geniet, want God was hul beskerming en bedekking!

Maar toe, as jy die storie ken, kom die duiwel in die gedaante van ‘n slang en hy verlei Eva om ongehoorsaam te wees aan God. Dit het tot gevolg dat sy teen God se wens optree, sonde doen en ook Adam saamsleep. Die slang sê vir Eva om van die vrug van die boom te eet. Hulle sal nie doodgaan nie, maar sal net so slim soos God wees, sê hy. Maak nie saak hoe mooi hy die prentjie geskets het nie, die probleem was: Hùlle was ongehoorsaam en het teen God se wens opgetree.

Klink dit vir jou bekend? Het jy al ooit daaraan gedink dat enige ding wat ons kan opnoem as sonde, se oorsprong as gevolg van ongehoorsaamheid aan God is? Ons begin dan om dinge te beredeneer en ‘n verkeerde situasie reg te praat. Dis mos juis ook dan wanneer dinge in jou wêreld begin verkeerd loop en jy ongelukkig raak.

Die oomblik toe Adam en Eva ongehoorsaam was aan God, het hul skaamte ervaar. Hulle het dadelik vir hulle klere gemaak met vyeblare om hul skaamte te verdoesel en toe kruip hulle vir God weg.

Dit klink amper asof hulle twee toe ‘n identiteitskrisis ervaar het. Amper iets soos: Ek is sleg! Ek is nie goed genoeg nie! Kyk hoe lyk ek!

Is dit nie hoe ons soms voel wanneer ons nie in lyn is met God se wil vir ons nie?

Bring vandag jou identiteitskrisis na Jesus toe. Petrus sê dat Jesus al ons sondes aan die kruis gedra het. Hy het jou vergewe.

GEBED:

My Here, ek weet ek was ongehoorsaam. Dankie dat U my vergewe. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Wanneer Jy Skaam en Vernederd Voel

Sonde veroorsaak dat ons dikwels skaam en vernederd voel. Dan sukkel ons om Bybel te lees, of te bid. Kom ontdek vandag God se liefde vir jou en ervaar hoe Jesus Christus se vergifnis ook vir jou beskikbaar is.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.sonjagoldberg.co.za