Wanneer Jy Skaam en Vernederd VoelVoorbeeld

Wanneer Jy Skaam en Vernederd Voel

DAG 6 VAN 7

DAG 6:

“Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou en Hy sal ons tot aan die einde daarmee help, sodat ons geloof sal bly wat dit behoort te wees. Dink aan sy voorbeeld. Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag. Kyk nou net, nou sit Hy op die ereplek by God in die hemel” (Hebr.12:2 DB).

Die harde werklikheid is dit: Soms is jy ongeskik met mense, soms vloek jy, of jok jy, of is jy humeurig, kortaf of neerhalend. So, as jy dink jy is sondig, dan is dit heel waarskynlik waar.

Onthou egter dat solank jy gefokus bly op jouself en jou foute, sal jy altyd geneig wees tot skaamte, want in onsself sal ons net nooit goed genoeg wees nie.

The only way to heal from shame is to move the focus from what I’m not, to who Christ is. And to take the focus away from me and put it on Christ” — Craig Groeschel.

God sê dat Hy ons nie geskape het om dinge op ons eie te doen nie. Dit was nooit sy bedoeling dat ons maar self moet “opsnork” nie.

Die heel beste nuus vandag is dat Jesus nie jou sonde teen jou hou nie. Jy is vrygespreek! Jy moet net begin om dit te glo en om jou gedagtes te verander van jouself na Jesus Christus toe.

In Ps.139:16 (AFR83) staan daar: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” Nou kan ek en jy weet en glo dat daar niks in ons lewe is waarvan God nie weet nie en Hy ons desondanks nog steeds liefhet. Daarom kan ons elke dag voluit vir Hom leef, al gaan dit hoe moeilik.

Nooi Jesus saam na jou etenstafel, na die sportveld, daar waar jy alleen is en daar waar jy by vriende kuier. Sing lofliedere tot sy eer! Lees jou Bybel en bid gedurig. Laat sý liefde jou identiteit wees.

GEBED:

My Hemelvader, dankie dat U my ken nog voordat ek gebore was en dat U my liefhet. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Wanneer Jy Skaam en Vernederd Voel

Sonde veroorsaak dat ons dikwels skaam en vernederd voel. Dan sukkel ons om Bybel te lees, of te bid. Kom ontdek vandag God se liefde vir jou en ervaar hoe Jesus Christus se vergifnis ook vir jou beskikbaar is.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.sonjagoldberg.co.za