Wanneer Jy Skaam en Vernederd VoelVoorbeeld

Wanneer Jy Skaam en Vernederd Voel

DAG 3 VAN 7

DAG 3:

"Daarna het die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle dit aangetrek" (Genesis 3:21 AFR83).

Weet jy dat skuldgevoelens en skaamte nie dieselfde ding is nie? Skuldgevoelens is dit wat ons voel as ons iets verkeerd gedoen het; maar skaamte het te doen met hoe jy oor jouself as mens voel: Ek is sleg. Ek is sondig. Ek is ‘n nikswerd. Ek verdien nie geluk nie!

Daarom is ons sonde die oorsaak daarvan dat ons nie onsself lief het nie.

Brene Brown het gesê: “Shame is the intensely painful feeling or experience of believing we are flawed and therefore unworthy of love and belongingsomething we’ve experienced, done, or failed to do, makes us unworthy of connection.”

Miskien is dit vandag JY wat so voel. Dit mag dalk jou finansiële skuldlas wees wat jy nie met ander wil deel nie; dalk het jy seksuele probleme in jou verlede gehad, of selfs nou nog; dalk sukkel jy met ‘n verslawing; miskien het jy jare terug ‘n verkeerde besluit geneem wat jou nog steeds pla. Dit is ook so dat selfs ander mense se sonde ons affekteer: dinge soos molestering, geweld en emosionele afpersing. Die duiwel (jou geestelike vyand) se doel is om jou te laat glo jy is vuil en sleg. Hy wil hê jy moet dink dat jy gebroke is.

Al probeer jy jou kop hoog hou en die front voorhou van iemand wat suksesvol is met jou breë glimlag en gladde woorde en toneelspel, weet Jesus wanneer jy onbevoeg, alleen en hulpeloos voel. Hy weet dat jy sukkel om jou plekkie onder die son te hê.

Gelukkig is niks in ons lewe vir God ‘n verrassing nie. Net soos wat Hy na Adam en Eva geroep het, roep Hy jou ook vandag. Hy het jou lief en sal jou nie los nie. Hy wil hê jy moet met Hom praat.

Vir Adam en Eva het God ‘n onskuldige dier doodgemaak en sy pels gebruik om vir hulle klere te maak. Vir my en jou het Hy sy Seun Jesus Christus kom gee: Die onskuldige offerlam. Jesus se bloed bedek ons sonde en skaamwees!

Jy kan weet en glo: Jou identiteit lê in Jesus, en nie in jou besittings, of hoe jy lyk, of wat ander van jou sê nie.

GEBED:

Jesus, baie dankie dat U bloed aan die kruis my skoongewas het. Dankie dat ek nie hoef skaam te wees vir wie ek is nie. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Wanneer Jy Skaam en Vernederd Voel

Sonde veroorsaak dat ons dikwels skaam en vernederd voel. Dan sukkel ons om Bybel te lees, of te bid. Kom ontdek vandag God se liefde vir jou en ervaar hoe Jesus Christus se vergifnis ook vir jou beskikbaar is.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.sonjagoldberg.co.za