’n Kersfees Saam met JesusVoorbeeld

’n Kersfees Saam met Jesus

DAG 1 VAN 7

God se vrede klink anders

“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir almal in wie Hy ’n welbehae het.”
(LUKAS 2:14 NLV)

“Joy to the world and peace on earth!” sê die seremoniemeester entoesiasties vir almal tydens ’n “Kersliedere by kerslig”-aand. Toe prewel iemand onderlangs: “As dit wat tans op aarde gebeur, vrede is, gee my dan maar oorlog.” Die wêreld ken tans nie veel vrede nie. ’n Britse studie het bevind dat die wêreld sedert 2007 toenemend onveiliger geword het. Teen die middel van 2014 was daar net 11 lande op aarde wat enige vorm van gewapende geweld vrygespring het. Minstens 40 ernstige konflikte het in 2017 oor die aarde gewoed. In 2023 het dit gegroei tot 45, met die bloedige gevegte in Oekraïne en Gasa steeds vars in almal se geheue.

Ten spyte van al die onvrede in die wêreld hoor ons weer die engele se lied bokant Betlehem wat eer bring aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense wat Hy so liefhet (Lukas 2:14). God se vrede is anders. Dis nie sinoniem met wapenstilstande tussen militêre magte nie. Nee, dis ’n vrede van die hart. Dis vrede met God, vrede wat oorspoel na alles en almal rondom jou. Daarom sing die engele steeds hier in Kerstyd oor God se vrede. Sing en leef dit saam.

Aangaande hierdie leesplan

’n Kersfees Saam met Jesus

Gewone mense soos ons word genooi om saam te kom feesvier omdat Jesus na ons toe gekom het. Sy koms het die wêreldgeskiedenis vir altyd verander! Jesus bring egter nie tydelike feesgroete nie. Stephan Joubert kom herinner jou dat Hy hierdie Fees vul met nuwe inhoud. So trek sy feesklere aan in hierdie feestyd en onthou: Hy is die rede vir Kersfees. Hy is die Een oor wie dit gaan.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us