’n Kersfees Saam met JesusVoorbeeld

’n Kersfees Saam met Jesus

DAG 2 VAN 7

Leer by kinders hoe om Kersfees reg te vier

“Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word. Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, ’n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en Hom in ’n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.”
(LUKAS 2:6-7 NLV)

Iewers het kindertjies ’n Kersspel opgevoer. Die outjie wat die herbergier gespeel het, moes vir Josef en Maria sê daar’s nie plek in die herberg nie (Lukas 2:6-7). Die aand tydens die opvoering het Josef en Maria by hierdie herbergier opgedaag. Toe sê hy vir hulle: “Ongelukkig is die herberg vanaand vol.” Josef en Maria het met hangskouers weggestap. Toe roep hy haastig uit: “Wag, julle kan vanaand my slaapkamer kry. Ek sal sommer in my ma-hulle se kamer op die mat gaan slaap!”

Die toneel was ontwrig. Die juffrou was kwaad en die jong akteurs het nie geweet hoe verder nie. Maar dalk was dit die beste Kersopvoering ooit! Die outjie wat die herbergier gespeel het, het Jesus se soort Kersfees gesnap. Hy het besef Jesus vul hierdie Fees met nuwe inhoud. Jesus bring nie tydelike Feesgroete nie. Hy maak dat selfs kindertjies hulle kamers afstaan aan mense wat nie ’n dak oor hulle kop het nie. Daarom is Kersfees ’n ander soort fees vir ons wat Jesus volg. Ons deel graag geskenke uit, maar ons doen baie meer as dit. Ons gee iets van onsself. Kerstyd is die tyd wanneer ons dié raaksien wat nie kos op die tafel het nie. Kerstyd is ’n tyd van omgee, trane afdroog en om van jouself te gee. Mag jou Kersfees vanjaar oorlaai wees met sulke seëninge.

Aangaande hierdie leesplan

’n Kersfees Saam met Jesus

Gewone mense soos ons word genooi om saam te kom feesvier omdat Jesus na ons toe gekom het. Sy koms het die wêreldgeskiedenis vir altyd verander! Jesus bring egter nie tydelike feesgroete nie. Stephan Joubert kom herinner jou dat Hy hierdie Fees vul met nuwe inhoud. So trek sy feesklere aan in hierdie feestyd en onthou: Hy is die rede vir Kersfees. Hy is die Een oor wie dit gaan.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us