Volkome OorgaweVoorbeeld

Lees: Handelinge 16:11–15, 40
SOAP: Handelinge 16:15
Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: "Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis."
Oordenking
Toe Paulus, Silas en Timoteus in Filippi was, het hulle uitgegaan om Jode te vind wat saam bid sodat hulle hulle van Jesus kon vertel. Die feit dat hulle by die stadspoorte moes uitgaan om ‘n groep te vind wat op die Sabbat bymekaargekom het, wys dat daar nie genoeg Joodse manne in die stad was om ‘n sinagoge te hê nie – wat merkwaardig is aangesien slegs tien mans nodig was.
Paulus en sy metgeselle het hulle by die rivier bevind. Hulle het met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. Een van hulle se naam was Lidia. Lidia was ‘n handelaar in pers wolmateriaal, wat beteken dat sy ‘n suksesvolle sakevrou was. Die materiaal wat sy verkoop het was duur; net die rykes kon dit bekostig. Sy het Paulus, Silas en Timoteus na haar huis genooi, ‘n aanduiding dat sy ‘n vermoënde vrou was met ekstra spasie vir besoekers.
Lidia het nie geweet wie sy daardie dag by die rivier sou ontmoet nie. Sy was ‘n Godvresende nie-Jood, maar sy het nie ‘n verhouding met God gehad nie. God het haar op die rand van die rivier ontmoet. Hy het haar hart oopgemaak sodat sy sou glo dat wat Paulus, Silas en Timoteus gedeel het, waar was. Toe Lidia die Here vertrou het, het haar besluite ‘n rimpeleffek gehad.
Sy en haar huishouding, waarskynlik dienaars en kinders, is onmiddellik gedoop. Alhoewel die aantal mense wat gedoop is nie aangeteken is nie, kan ons sien dat Lidia se invloed die lewens van diegene in haar kring verander het.
Lidia se nalatenskap is kragtig. Sy word beskou as die eerste Christen bekeerling in Europa en dit is waarskynlik dat sy die eerste huiskerk in Filippi in haar huis aangebied het. Toe Paulus en Silas uit die tronk vrygelaat is, het hulle by Lidia se huis gestop voordat hulle die stad verlaat het om die gelowiges in Filippi te bemoedig.
Toe Lidia daardie dag by die rivier aangekom het, het sy nie geweet dat sy ‘n besluit gaan neem wat haar lewe sou verander nie. Met ‘n oop hart en oop gemoed, het God Lidia ontmoet net waar sy was – en sy kerk het as gevolg daarvan gegroei. Dit maak nie saak wat die grootte van jou invloed is nie, jy kan ‘n impakvolle nalatenskap nalaat. Wanneer ons getrou is met die hulpbronne wat God ons gegee het en getrou is om ander van Hom te vertel, is daar geen beperking op wat Hy deur ons kan doen nie.
Aangaande hierdie leesplan

Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/