Volkome OorgaweVoorbeeld

Lees: 2 Timoteus 1:3-7
SOAP: 2 Timoteus 1:5
Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.
Oordenking
Gesinne dra dikwels tradisies, stories en erfstukke van een geslag na ’n ander oor. Dalk het jy ’n spesiale halssnoer wat aan jou ouma behoort het, of dalk ken jy die storie van hoe jou oupagrootjie en oumagrootjie ontmoet het. Miskien het jou gesin ’n spesiale tradisie wat jy elke keer volg wanneer iemand in jou gesin verjaar.
Die nalatenskap wat Timoteus geërf het, was selfs beter as ’n erfstuk. In Paulus se brief aan Timoteus het hy die opregte geloof van Timoteus se ouma Loïs en sy ma Eunice erken. Paulus het Timoteus en sy gesin op sy eerste sendingreis in Galasië ontmoet, en hulle geloof het ’n blywende indruk gemaak. Timoteus is deur ’n Joodse ma en ’n Griekse vader grootgemaak. Handelinge 16 verwys na Eunice as “’n Joodse vrou wat ’n gelowige was”. Of Timoteus ’n stewige grondslag van die Joodse geloof van sy moeder en ouma ontvang het, en of Loïs en Eunice Christene geword het deur Paulus se verkondiging van die evangelie, is nie duidelik nie. Wat wel duidelik is, is dat hulle hul geloof aan Timoteus oorgedra het.
Loïs en Eunice het Timoteus geleer om opregte geloof te hê. In plaas daarvan om hul oortuigings te laat vaar by die eerste teken van moeilikheid of aan te pas by die kultuur rondom hulle, het hulle standvastig gebly. Timoteus is grootgemaak met God se waarheid. Dit was hierdie agtergrond en geloof wat Paulus aangespoor het om uiteindelik vir Timoteus te nooi om by hom aan te sluit as ’n sendinggenoot. Paulus het dikwels van Timoteus geskryf asof hy sy eie seun was.
Wanneer ons ons geloof met die volgende geslag deel, God se Woord vir hulle leer en hulle help om standvastig te bly in die waarheid, rus ons hulle toe om die uitdagende omstandighede, beproewings en struikelblokke in die lewe te hanteer, en bowenal, om Christus aan die wêreld te verkondig. Deur ons getuienis kan ons die volgende geslag aanmoedig om God se genadige gawe van verlossing in Christus te aanvaar. Wanneer ons deel hoe God getrou was om saam met ons deur moeilike tye te stap, sal hulle aangemoedig word om hul eie uitdagings met genade te verduur. En wanneer ons God loof vir die oorwinnings wat Hy ons gegee het, mag hulle aansluit met hul eie liedere van aanbidding en dankbaarheid.
Moenie die onskatbare geleenthede mis wat God jou gee om die volgende geslag op te lei, te onderrig, te mentor, aan te moedig of toe te rus om opregte geloof in en liefde vir God te ontwikkel nie. So ’n belegging sal baie meer werd wees as wat jy ooit kan dink.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/