Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van DaniëlVoorbeeld
Week 4
Getroue lewe in die senior jare
Getrou tot die einde
Lees: Daniël 5:1-17; Jesaja 46:1-5; Judas 1:24-25
SOAP: Jesaja 46:4
“Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, Tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red.”
Oordenking
Daniël, waarskynlik in sy 70's, was op hierdie stadium al meer as sestig jaar in Babilon. Koning Nebukadnesar het gesterf en koning Belsasar, sy seun, het nou regeer.
Babilon was onder beleg, tog het Belsasar besluit om 'n fees te hou! Die stad was goed versterk, en hulle het ‘n goeie voorraad kos gehad. Dit was sy manier om te wys dat hy nie bekommerd was nie.
Die trotse hart van die jonger koning Nebukadnesar is in Belsasar vertoon. Belsasar het egter nie uit sy pa se latere jare geleer nie.
Soos die partytjie gevorder het, het Belsasar besluit om die goue en silwer voorwerpe wat Nebukadnesar uit die tempel in Jerusalem geneem het, in te bring. Hulle kon dit gebruik om te drink en hulle gode te prys.
God het in hierdie goddelose feesviering ingetree. Dadelik het 'n hand verskyn en op die muur begin skryf. Die koning was lam van die skrik, maar nie een van sy wyse manne kon die skrif verstaan nie. Sy ma het ingekom en probeer om haar seun te kalmeer. Sy het hom aan Daniël herinner.
Toe die koning geld en posisie aangebied het om die skrif te interpreteer, het Daniël die geskenk geweier. Daniël het geweet dat die mag, posisies en lof van hierdie wêreld nie sou hou nie. Sy fokus was op God en sy ewige koninkryk gevestig. Al die jare nadat hy uit sy huis in Jerusalem geneem is, het Daniël geweet dat God die een is wat Hom onderhou, dra en red.
Soms kan ons wonder: "Kan ek voortgaan in hierdie Christelike lewe?" Dit is soms so moeilik, en ons kan maklik deur ander dinge afgelei word. Ons vra: "Sal ek getrou kan wees tot die einde toe?" Die antwoord is ja! Hoe kan ons seker wees? Dit is slegs God wat jou red, jou vashou en jou bewaar. Hy het aan gelowiges sy Heilige Gees gegee wat ons bemagtig om te volhard. God is getrou en in staat om jou te bewaar tot die laaste dag.
Gebed
Hemelse Vader, ek loof en dank U, want U is die een wat my gemaak het, my dra, my onderhou en my red. Ek dank U, Jesus, dat U my sonder skuld en met groot vreugde voor die Vader se heerlike teenwoordigheid kan stel! Aan U alleen kom die eer toe, nou en tot in ewigheid! Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Om as Christen in hierdie wêreld te leef, kan soms baie eensaam wees. Dit mag voel asof ons die enigstes is wat Christus getrou volg. Daniël het ook voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Daniël en sy vriende het gekies om God en sy weë te volg selfs al het dit ingedruis teen die wette van die land. Die boek Daniël spoor ons aan om God getrou te dien.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans