Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van DaniëlVoorbeeld
Jou dae is getel
Lees: Daniël 5:17-30 & Lukas 12:15-21
SOAP: Daniël 5:23b
“U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie.”
Oordenking
Diegene wat nie uit die verlede leer nie, is gedoem om dit te herhaal. Dit is jammer dat Belsasar nie alles ter harte geneem het wat koning Nebukadnesar deurgemaak het toe God hom nederig gemaak het nie. Om een of ander rede het hy nie gedink daar is enige lesse vir hom om te leer nie.
Belsasar se trots het selfs verder gegaan. Deur te kies om die bekers uit die tempel te gebruik om valse gode te loof, het hy homself teen die een, ware God gestel. God sou demonstreer wie werklik magtig was.
God het baie geduld met koning Nebukadnesar gehad. Waarom het Belsasar nie 'n tweede en derde kans soos sy pa gekry nie? God is alwetend en wys bo ons verstand. Ons weet Hy is getrou en regverdig. As gevolg hiervan kan ons met vertroue sê dat Hy die regte ding met albei mense gedoen het.
Die gelykenis van die ryk dwaas het baie ooreenkomste met wat met koning Belsasar gebeur het. Al was die kwessie met die ryk dwaas trots en hebsug eerder as trots en mag, spandeer hulle albei hul lewens om iets of iemand anders te verhef en te prys, eerder as die God wat hul dae in sy hande hou. Dwaasheid in die Bybel word gekenmerk as die verwerping van die waarheid oor God.
Dit is God wat lewe in ons geasem het. Hy voorsien vir ons en onderhou ons. Hy is die Een wat ons moet verheerlik. Enigiets anders wat ons loof, aanbid of verheerlik is altyd minder as, en sal altyd teleurstel. Ons is gemaak vir soveel meer.
Die idee dat God ons dae in sy hande hou kan vertroostend wees, maar dit kan ook kommerwekkend wees. Ons weet ons is ver van perfek af. God wag nie vir ons om te misluk sodat Hy ons kan uitwis nie. Jou sondes is gekanselleer. 'n Groot prys is daarvoor betaal. God begeer 'n verhouding met jou wat hier begin en voortgaan tot in die ewigheid. Eer behoort aan Hom alleen!
Gebed
Liewe Here, dankie dat U nie net kragtig is nie, maar dat U ook liefdevol en genadig is. Terwyl daar asem in my longe is wat van U gegee is, sal ek U loof en prys. Vergewe my, Here, wanneer ek dwaas lewe. Ek bid vir wysheid. O, Here, gee my 'n dankbare hart vir elke dag wat U my gegee het. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Om as Christen in hierdie wêreld te leef, kan soms baie eensaam wees. Dit mag voel asof ons die enigstes is wat Christus getrou volg. Daniël het ook voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Daniël en sy vriende het gekies om God en sy weë te volg selfs al het dit ingedruis teen die wette van die land. Die boek Daniël spoor ons aan om God getrou te dien.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans