Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van DaniëlVoorbeeld

Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël

DAG 26 VAN 43

'n Lewe van integriteit

Lees: Daniël 6:1-11; Matteus 10:28-31; Titus 2:6-8

SOAP: Daniël 6:11

“Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Die dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank.”

Oordenking

Daniël, wat waarskynlik toe al in sy 80's sou wees, het 'n magtige posisie onder beide vorige Babiloniese konings gehad. Met die Persiese ryk wat beheer oorgeneem het, sou dit nie ‘n verrassing wees as Daniël oor die hoof gesien word nie. Darius het egter Daniël se wysheid en leierskapsvaardighede erken en daarom het hy hom een van die top drie poste in die land gegee.

Ander belangrike mense was jaloers en met bittere afguns gevul. Hulle wou Daniël tot 'n val bring. Hulle het Daniël gevolg en aangeneem dat hulle sou vind dat hy iets oneerlik doen, sekere reëls buig of sommige mense uitlaat, maar hulle het niks gevind nie!

As iemand jou volg om te kyk of hulle iets verkeerds teen jou kan vind, sou hulle? Omdat ons Christene is, kyk mense hoe ons leef. Hulle wil sien of wat ons sê en wat ons doen, ooreenstem. As God tot jou spreek oor 'n area van jou lewe wat moet verander, neem dit na Hom toe. Bid vir vergifnis en die wysheid en krag om anders te lewe.

Daniel het volgens 'n baie hoë standaard geleef. Hy was 'n man van integriteit. Met goddelose motiewe het die mans ’n onveranderlike wet opgestel wat direk teenstrydig was met God se wet. Hulle het koning Darius gevlei om dit as wet te onderteken.

Daniël het geweet van die dekreet en het nie eens die vensters toegemaak nie! Hy het na sy huis gegaan en gebid soos hy altyd gedoen het, drie keer per dag. Om God te eer het die wette van mense oorheers. Daniël was nie bang wat mense aan hom kon doen nie. Hy het eerder 'n gesonde vrees vir die krag van die Here gehad.

Weerhou 'n vrees vir mense – en hul moontlike reaksie – jou daarvan om met hulle oor God te praat? Begeer jy die vriendskap van iemand so baie dat jy nie die risiko wil loop om daardie persoon te verloor as jy praat oor Jesus, die enigste een wat hulle kan red nie? Mag ons liefde vir God enige vrese oorheers wat ons daarvan kan weerhou om hierdie liefde met vrymoedigheid te deel.

Gebed

Hemelse Vader, U is gister, vandag en vir altyd dieselfde. U doen altyd wat reg is. O, Here, vergewe my vir die maniere waarop ek leef wat nie ooreenstem met 'n kind van U nie. Ek wil 'n persoon van integriteit wees. Gee my die krag om versoeking te weerstaan. Ek dank U vir u genade en barmhartigheid. Amen.

Dag 25Dag 27

Aangaande hierdie leesplan

Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël

Om as Christen in hierdie wêreld te leef, kan soms baie eensaam wees. Dit mag voel asof ons die enigstes is wat Christus getrou volg. Daniël het ook voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Daniël en sy vriende het gekies om God en sy weë te volg selfs al het dit ingedruis teen die wette van die land. Die boek Daniël spoor ons aan om God getrou te dien.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans