Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van DaniëlVoorbeeld
Week 5
Daniël se visioene en gebede
Goed teenoor kwaad
Lees: Daniël 7:1-3; Daniël 7:9-18; Johannes 5:24-27
SOAP: Daniël 7:14
“Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is 'n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie.
Oordenking
Ons gaan die res van die boek Daniël, wat nou verskuif na die optekening van die apokaliptiese visioene wat Daniël van God ontvang het, vinniger behandel. Moenie bekommerd wees as jy sommige van hierdie visioene nie so mooi verstaan nie. Daniël het ook nie! Hulle beklemtoon die hooftemas van hierdie boek. God het alle gesag en mag. Hy werk sy doel uit deur die seisoene van die geskiedenis, en Hy sal die hoogmoediges verneder.
God het vir Daniël ‘n visioen van vier wrede diere gegee. Elke dier het ‘n mengsel van dierlike en menslike kenmerke gehad. Die laaste dier was wreedaardig en het tien aaklige horings gehad. Vir 21ste-eeuse lesers mag dit ongelooflik vreemd voorkom, maar God het ‘n doel gehad met hierdie visioen. Terwyl Daniël kyk, sien hy nog ‘n horing uitkom, en hoe drie van die ander horings uitgeruk word. Dié horing het verwaande woorde kwytgeraak.
God het vir Daniël gewys dat die wenner onbetwisbaar was. Hy wat ewig lewe het op die plek van alle gesag gesit. Hy is rein en regverdig.
Die nuwe horing het nog verwaande dinge kwytgeraak, en sy dier is doodgemaak. Die ander diere is egter toegelaat om ‘n tyd langer te lewe maar is van hulle gesag ontneem. Hulle kon nie hierdie besluit omkeer nie.
Die Seun van die Mens het gesag, eer en mag ontvang om te regeer. Mense van oraloor en alle tale het Hom aanbid. In die boek Openbaring het Johannes ‘n soortgelyke visioen van die hemel ontvang waar hy mense van elke nasie sien wat God saam aanbid en loof (lees Openbaring 7:9-10).
Dwarsdeur die evangelies verwys Jesus dikwels na Homself as die Seun van die Mens. Hy is die Seun van die Mens en die Seun van God. Sy koninkryk duur vir ewig.
Ons leef in die tyd tussen Jesus se eerste en tweede koms. Gedurende hierdie tydperk is die duiwel reeds verslaan. Tog laat God hom toe om nog ‘n tyd lank te bly tot sy finale vernietiging. Ofskoon die duiwel mag het, is dit beperk. Jesus gee ons die mag om die duiwel te weerstaan. Ons weet dat die goeie uiteindelik gaan seëvier.
Gebed
Here God, U is die Alfa en die Omega. Ek sien uit na Jesus se wederkoms wanneer daar nie meer sonde of dood sal wees nie, en u koninkryk in al sy heerlikheid sal kom. Here, ek bid vir die kerk, u volk dwarsoor die wêreld. Maak ons sterk. Help ons om die duiwel te weerstaan en maak ons moedig om getrou te leef. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Om as Christen in hierdie wêreld te leef, kan soms baie eensaam wees. Dit mag voel asof ons die enigstes is wat Christus getrou volg. Daniël het ook voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Daniël en sy vriende het gekies om God en sy weë te volg selfs al het dit ingedruis teen die wette van die land. Die boek Daniël spoor ons aan om God getrou te dien.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans