Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van DaniëlVoorbeeld

Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël

DAG 1 VAN 43

WELKOM by ons Bybelstudie: "Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël"

Om as Christen in hierdie wêreld te leef, kan soms baie eensaam wees. Dit mag vir ons voel asof ons die enigstes is wat Christus getrou volg terwyl die wêreld volg wat ook al vir hulle reg lyk.

Net soos ons het Daniël voor soortgelyke uitdagings te staan gekom terwyl hy God getrou probeer volg het terwyl hy in ballingskap in Babilon gewoon het. God het al die ballinge beveel om die beste belange van die stad waarin hulle geplaas was, te dien om diegene rondom hulle na die ware en lewende God heen te wys.

Daniël en sy vriende het gekies om God en sy weë te volg selfs al het dit ingedruis teen die wette van die land wat ander as veilig beskou het. Die boek Daniël spoor ons aan om ‘n God te dien wat soewerein in beheer van almal is en ons lewe tot ons beswil en sy heerlikheid beplan het.

Selfs wanneer ons dalk in ‘n lewensfase is wat ons nie wou hê of verwag het nie, kan ons vertrou dat God ons met ‘n doel daar geplaas het. Hy sal dit gebruik om ons karakter en afhanklikheid van Hom te vorm.

Sluit vir die volgende ses weke by ons aan en ontdek hoe om te floreer waar God jou geplant het en om God getrou te vertrou met jou lewe. Jy kan meer inhoud rakende "Leef Getrou in ‘n Ongelowige Land" aanlyn vind, asook blogplasings en gemeenskapsgroepe. Ontdek die skoonheid van die Woord van God terwyl ons leer hoe om getrou te lewe in ‘n wêreld sonder geloof.

__________________

Hier by "Love God Greatly Afrikaans" gebruik ons die "SOAP"-metode vir ons Bybelstudies.

Wat is SOAP?

Hierdie metode maak dit vir jou moontlik om dieper in die verse te delf en om meer te sien as wanneer jy net eenvoudig die verse lees en dan aangaan. Ons wil jou aanmoedig om jou tyd te gebruik om die daaglikse verse te lees en self te sien hoeveel meer jy uit jou daaglikse stiltetyd kan kry.

Wat beteken "SOAP"?

Die S staan vir "Scripture":

Jy skryf die teksverse neer. Jy sal verbaas wees om te sien wat God in sy Woord aan jou openbaar deur net tyd in te ruim om die verse neer te skryf.

Die O staan vir "Observation":

Wat sien jy in die verse wat jy lees? Wie is die gehoor? Is daar ‘n herhaling van woorde? Watter woorde staan vir jou uit?

Die A staan vir "Application":

Dit is wanneer jy die Woord van God persoonlik toepas. Wat sê God vandag vir my? Hoe kan ek dít wat ek nou net gelees het in my eie lewe toepas? Is daar iets wat ek moet doen? Watter veranderinge moet ek aanbring?

Die P staan vir "Prayer":

Bid tot God en praat met Hom oor die Skrifgedeelte wat jy so pas bestudeer het. As Hy iets aan jou in sy Woord geopenbaar het, bid daaroor. Bely die sonde in jou lewe wat Hy vir jou uitgewys het.

_____________________

Inleiding

Het jy al ooit gevoel asof jy nie inpas nie? Dit mag wees dat jou waardes en oortuigings nie waardeer word nie. In werklikheid kan dit aktief teengestaan word. Vriendin, jy is nie alleen nie. Hierdie wêreld is nie ons ewige tuiste nie. Dit is slegs 'n skaduwee van wat kom. Tog is ons geroep om hier te leef. Ons lewens is bedoel om anders te wees wanneer ons getrou aan God oorgegee is.

In die boek Daniël het God se volk in moeilike tye geleef. Hulle het gedink dat hoe hulle leef nie saak maak nie. Na baie waarskuwings het God toegelaat dat sy volk verslaan word. Die Babiloniërs het oorgeneem en hulle het die jonges, die adel en dié wat hulle nuttig geag het, na Babilonië geneem. Hulle doel was om hierdie mense op te lei in die weë van Babilon.

Ons sal leer hoe hierdie jong mans daarop gereageer het om in 'n plek te leef wat so anders was as wat hulle geken het. Hoewel die mense waarskynlik in die versoeking was om hulle self in Babilon te isoleer of om met die omliggende kultuur te meng, het God sy volk geroep om getrou te leef waar Hy hulle geplaas het. Hulle moes probeer om die stad en die mense om hulle te seën deur ander na God te lei. God wou sy mense se harte verander.

Op dieselfde manier wil God hê dat ons ook hierdie pad moet stap. Terwyl ons op die wederkoms van Jesus wag, moet ons dit ons missie maak om die mense om ons te seën deur hulle na Jesus te lei. Ons moet ons dae in oorgawe aan Christus leef en die Heilige Gees toelaat om te werk aan ons karakter, ons hart se ingesteldheid en hoe ons kies om deur die verskillende seisoene van die lewe te werk.

Ten spyte van menige moeilike dae het Daniël getrou gebly in die klein en groot uitdagings. Sy lewenswandel het uitgestaan, omdat hy getrou die volk aan God se krag herinner het. Aan die einde van die boek het God aan Daniël visioene gegee, maar Hy het hom verseker dat die goeie aan die einde van die tyd sal oorwin. God het 'n plan gehad om sy volk te verlos.

Het jy al ooit daaraan gedink dat God jou daar geplaas het waar jy is, tussen die mense wat jy ontmoet, vir 'n besondere doel? God het jou uniek gemaak. Hy het jou lief en waardeer jou. Jy kan 'n onderskeidende lewe lei waar jy mense met selfvertroue wys na die Een wat red. Mag hierdie studie jou help om in jou kennis en liefde van ons getroue, standvastige God te groei terwyl Hy jou hart transformeer om meer soos Christus te wees en getrou in 'n ongelowige wêreld te leef.

Het jy al ooit daaraan gedink dat God jou geplaas het waar jy is, tussen die mense wat jy ontmoet, vir 'n besondere doel?

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël

Om as Christen in hierdie wêreld te leef, kan soms baie eensaam wees. Dit mag voel asof ons die enigstes is wat Christus getrou volg. Daniël het ook voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Daniël en sy vriende het gekies om God en sy weë te volg selfs al het dit ingedruis teen die wette van die land. Die boek Daniël spoor ons aan om God getrou te dien.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans