Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van DaniëlVoorbeeld

Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël

DAG 7 VAN 43

Lei kinders op

Lees: Spreuke 22:6 en Deuteronomium 6:1-15

SOAP: Deuteronomium 6:6-7

“Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.”

Oordenking

Die mense van Juda is in ballingskap weggevoer omdat hulle nie hulle beloftes aan God nagekom het nie en ander gode begin aanbid het. Dit het egter nie beteken dat almal ontrou was nie. Selfs terwyl die meeste wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle God se volk is, weggedraai het, was daar 'n klein oorblyfsel mense wat aan God getrou gebly het.

Selfs met goeie opvoeding in die kinderjare, moes hierdie tienerseuns groot besluite neem oor hoe hulle in Babilon gaan woon. Daniël en sy vriende het nuwe idees en maniere geleer om na die wêreld te kyk. Met wat sou hulle meedoen en wat sou hulle weerstaan? Wat kon hulle verduur ten spyte daarvan dat hulle nie saamgestem het nie en waarteen sou hulle opstaan omdat dit teen die leerstellings van God was?

Ons het ook besluite om te neem oor hoe ons gaan leef. Ons moet kies of ons na God gaan luister en of ons ons eie manier gaan kies. Hoe lyk dit om getrou te lewe waar jy is? Hoe kan jy begin om jouself nie net in godsaligheid op te lei nie, maar ook diegene rondom jou wat jonger is?

As jy 'n ma, pa, ouma, oupa, tannie, oom, of peetma en -pa is, of by 'n kerk betrokke is, sal jy die geleentheid kry om kinders en jongmense van God te leer. Jy kan dit doen deur die Bybel saam met hulle oop te maak en te verduidelik wat dit sê. Maar jy sal hulle ook leer wanneer jy hulle in jou alledaagse roetines verwelkom en praat oor wat God jou deur die jare geleer het. Uiteindelik wys jy hulle op die wysheid wat God in sy Woord gee vir elke situasie.

Die kinders om jou kyk op na jou, leer hulle dus en lei hulle op in die manier waarop hulle moet optree, terwyl hulle ook konsekwent vir God leef. Alhoewel elke kind moet kies of hy of sy God sal volg, sal jou pogings om hulle van Christus te leer nie vermors wees nie. Leer dus die jongmense in jou lewe die manier waarop hulle moet leef — deur jou woorde, dade en gesindheid.

Gebed

Hemelse Vader, u Woord leer my getrou u weë. Bekragtig my om getrou aan U te bly. Ek bid vir die kinders en jongmense wat ek ken. Mag ek hulle help om van u groot liefde vir hulle te leer sodat hulle dit vir hulself sal ervaar. Ek bid dat U gelowiges sal dra en hulle sal help om in U te vertrou wanneer ons kultuur poog om hulle weg te lok. Amen.

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël

Om as Christen in hierdie wêreld te leef, kan soms baie eensaam wees. Dit mag voel asof ons die enigstes is wat Christus getrou volg. Daniël het ook voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Daniël en sy vriende het gekies om God en sy weë te volg selfs al het dit ingedruis teen die wette van die land. Die boek Daniël spoor ons aan om God getrou te dien.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans