Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van DaniëlVoorbeeld
Getrou in klein en groot dinge
Lees: Daniël 6:19-29 en Lukas 16:10-13
SOAP: Daniël 6:27-28
“Ek gee hiermee opdrag dat in my hele koninkryk die God van Daniël gevrees en geëer moet word. Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig; sy koninkryk sal nie vernietig word nie, sy heerskappy sal nooit eindig nie. Hy red en bevry, Hy doen tekens en wonders in die hemel en op die aarde; Hy het Daniël uit die kloue van die leeus gered.”
Oordenking
So vroeg as wat hy kon, is Darius na die leeukuil toe. Met ‘n bewende hart het hy uitgeroep: “Daniël, was jou God in staat om jou te red?” Toe Daniël hom antwoord, was die koning oorstelp van vreugde en die kwaadwillige mans is gestraf.
Net soos koning Nebukadneser voor hom, het koning Darius geskryf dat almal in sy koninkryk die God van Daniël moes vrees en eer. Darius het erken dat God lewend, ewig en onoorwinlik is. Hy red, verlos, en is selfs sterker as leeus.
Ons weet nie of Darius in God geglo het nie, en of hy net verwonderd was oor wat Hy gedoen het nie. Ons sien wel dat Daniël voorspoedig was terwyl Darius en Kores geregeer het. Niemand wat tyd saam met Daniël deurgebring het, kon dit miskyk dat hy die lewende God dien nie.
As navraag gedoen sou word by verskeie van die mense saam met wie jy die afgelope maande en jare baie tyd deurgebring het, hoeveel van hulle sou weet dat jy ‘n volgeling van Jesus is? Hoeveel sou verras wees om te hoor jy is ‘n Christen?
Ons het die geleentheid om ons geloof in die wel en wee van die lewe uit te leef. God is altyd getrou. Ons leef saam met mense uit allerhande soorte agtergronde en ervarings. Ons is God se getuies deur wat ons doen en sê, maar ook deur wat ons nie doen of sê nie. Ons lewenswyse kan mense na die lewende God lei of ons maar net by die wêreld om ons laat insmelt.
Getrouheid aan God in die minder belangrike keuses van die lewe maak dit makliker om getrou te wees wanneer die groot uitdagings kom. Ons het in die eerste ses hoofstukke van Daniël gesien dat hy besluite geneem het wat sy geloof in die lewende God gevorm het. Daniël en sy vriende was getroue getuies.
Gebed
Liewe Heer, U weet alles van my af en van almal met wie ek daagliks en weekliks te doen kry. Mag ek ‘n getroue getuie vir U wees. U het my siel gered en verlos. Dankie dat U my lewe verander het. As U my kan gebruik, hier is ek, Here. Ek bid dit in die wonderlike naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Om as Christen in hierdie wêreld te leef, kan soms baie eensaam wees. Dit mag voel asof ons die enigstes is wat Christus getrou volg. Daniël het ook voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Daniël en sy vriende het gekies om God en sy weë te volg selfs al het dit ingedruis teen die wette van die land. Die boek Daniël spoor ons aan om God getrou te dien.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans