Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van DaniëlVoorbeeld
Herstel
Lees: Esra 1:1-7; Nehemia 9:32-38; Nehemia 10:28-29
SOAP: Nehemia 9:33
“In alles wat oor ons gekom het, was U regverdig; U het reg gedoen, ons verkeerd.”
Oordenking
God was getrou. Nadat 70 jaar in ballingskap voltooi was, het God se volk na hul land teruggekeer. Dinge was nie presies soos dit voorheen was nie. Hulle het nie hul eie koning gehad nie. God het hulle egter toegelaat om in die land te woon, Jerusalem te herbou en alles te hê wat hulle nodig gehad het om hul weer in Juda te vestig.
Esra het die eerste groep mense teruggelei na Juda. Hulle was relatief klein in getal, en die taak wat hulle gehad het, om Jerusalem, die stadsmure, hul huise en die tempel te herbou, het oorweldigend gelyk. God het egter telkens voortgegaan om getrou vir sy volk te voorsien.
Sagaria het ook in een van die eerste groepe na Jerusalem teruggekeer. God het vir hom 'n belangrike boodskap gegee vir sy mense wat bekommerd was oor die taak wat voorlê. Die taak sou nie deur hulle krag of mag verrig word nie, maar deur die Gees van die Here (Sagaria 4:6-7)!
Nehemia het in 'n latere groep van Babilon af teruggekom, ongeveer 13 jaar nadat Esra aangekom het. Hy het gehelp om die herbouing van Jerusalem, veral die tempel en mure, aan te moedig en weer aan te wakker. Die werk aan hierdie strukture het tot stilstand gekom as gevolg van voortdurende teenstand deur hul vyande en die gevolglike moegheid van sy mense.
Wat van die mense se harte? Het God hulle verander? Die mense was gereed om die Here te gehoorsaam. Hulle wou selfs 'n verbond teken! Terwyl hulle versoek sou word en weer in sonde sou verval, het ons 'n groter getrouheid in die gesindheid van God se mense in hierdie tyd gesien.
God is steeds besig om harte te transformeer van dood na lewe en doen dit veral sedert Jesus teruggekeer het na die hemel en die Heilige Gees uitgestort is.
God is die groot beloftehouer. Ons kan seker wees dat enige beloftes wat Hy gemaak het, vervul sal word. Maar Hy vervul nie altyd sy beloftes op die manier wat ons dalk verwag of wil hê Hy moet nie. Ons kan vertrou dat sy weë die beste is. Hy is regverdig en tree getrou op in alles wat Hy doen. Sy liefde dryf alles wat Hy doen en dit voorsien ons van genade op genade.
Gebed
Liewe Here, U is regverdig en getrou in alles wat U doen. Dikwels wanneer ek U getrouheid bevraagteken het, is dit omdat U nie gedoen het wat ek wou hê nie. O ,Here, vergewe my. Ek bid – nie my wil nie maar U wil geskied. Ek dank U dat ek op u Woord kan vertrou en staatmaak. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Om as Christen in hierdie wêreld te leef, kan soms baie eensaam wees. Dit mag voel asof ons die enigstes is wat Christus getrou volg. Daniël het ook voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Daniël en sy vriende het gekies om God en sy weë te volg selfs al het dit ingedruis teen die wette van die land. Die boek Daniël spoor ons aan om God getrou te dien.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans