Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van DaniëlVoorbeeld

Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël

DAG 42 VAN 43

Niemand kan spog nie

Lees: Efesiërs 2:1-10

SOAP: Efesiërs 2:8-10

"Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het."

Oordenking

In ons studie van die boek Daniël het ons eerste gesien dat God sy woorde vervul het om die mense van Juda uit hulle land te verwyder as hulle nie na Hom terugkeer nie. Die mense het trots geword en was oortuig daarvan dat God hulle nooit uit Jerusalem sou verwyder nie. Wat hulle nie gedink het moontlik was nie, het waar geword.

Die mense van Juda is na Babilon geneem, 'n plek wat bekend was vir boosheid en sonde. Die 70 jaar van ballingskap was moeilik vir die volk van God. Tog, terwyl God hulle verneder het, het Hy hulle ook verander en herstel.

Soos God vir die mense van Juda voorsien het, het Hy op ongelooflike maniere vir gelowiges voorsien. God het ons die gawe van geloof gegee. Ons kan nie spog nie aangesien ons dit nie self bewerkstellig het nie en dit nie verdien nie. Daar is nie plek vir trots nie. God het 'n plan en 'n doel met ons lewens; daarom moet ons luister en Hom gehoorsaam.

Jy kan seker wees dat jy presies is waar God wil hê jy moet wees. Al is jy, soos Daniël, dalk iewers waar jy nie sou verkies het om te wees nie, weet dat God aan die werk is. Hy stel belang in jou karakter en hoe jy kies om in alle omstandighede te leef.

Vra God om jou te lei na die goeie werke wat Hy vir jou beplan het. Soek die nuwe geleenthede waarin God jou nou lei.

God is aan die werk. Sy planne en doelwitte sal deur elke seisoen van jou lewe vervul word. Hy kan vertrou word met jou vandag, jou môre en jou ewige tuiste. Jy is gered deur sy wonderlike genade! Jou toekoms is seker. Gaan leef dus getransformeerd deur God se wonderlike liefde, wat selfs mense soos ons red!

Gebed

Hemelse Vader, dankie dat U my gered het. Wys my die goeie werke wat U vir my beplan het. Gee my die krag en vermoë om dit te doen. Here, ek weet U sal vandag en môre getrou saam met my wandel en totdat my tyd op hierdie aarde verby is en ek die vreugde ontvang om die ewigheid saam met U en al u heiliges deur te bring. Amen.

Dag 41Dag 43

Aangaande hierdie leesplan

Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël

Om as Christen in hierdie wêreld te leef, kan soms baie eensaam wees. Dit mag voel asof ons die enigstes is wat Christus getrou volg. Daniël het ook voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Daniël en sy vriende het gekies om God en sy weë te volg selfs al het dit ingedruis teen die wette van die land. Die boek Daniël spoor ons aan om God getrou te dien.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans