Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van GodVoorbeeld
Week 1 / Wie is God?
Die natuur van God: God se bestaan
Lees: Genesis 1:1-5; Hebreërs 11:1-7
SOAP: Genesis 1:1; Hebreërs 11:6
“In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Genesis 1:1).
“As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon” (Hebreërs 11:6).
Oordenking
Het jy al ooit in verwondering gestaan by 'n asemrowende sonsondergang, die sagte briesie op jou gesig gevoel, of die kompleksiteit van die menslike liggaam bewonder? Genesis 1:1 verklaar dat God die outeur van die hele skepping is. Die skoonheid en orde in ons wêreld getuig van sy magtige krag en kreatiwiteit.
Maar hoe weet ons regtig dat God bestaan? Hebreërs 11:6 sê vir ons dat geloof noodsaaklik is. Dit gaan nie net oor wat ons met ons oë sien nie, maar oor wat ons met ons harte glo. Wanneer ons Hom doelbewus soek, kan ons nie anders as om oral om ons bewyse van sy teenwoordigheid in ons lewens te vind nie.
Glo jy my nie? Ruim 'n oomblik in om te dink aan die omvang en grootsheid van ons heelal. Wetenskaplikes het ontdek dat die aarde perfek in ons sonnestelsel geposisioneer is om lewe te ondersteun. Die presiese toestande wat nodig is vir ons bestaan, is nie 'n produk van toeval nie, maar 'n weerspieëling van 'n doelgerigte Ontwerper (Psalm 19:1).
Tog is God se teenwoordigheid nie net beperk tot die fisiese ryk nie. Ons ervaar Hom ook in die herskepping van ons harte. Ontelbare getuienisse van veranderde lewens, is 'n bewys van sy krag en liefde. In gebed voel ons sy vertroostende omhelsing. In die Skrif word ons gelei deur sy stem (Jeremia 29:13).
Liewe vriendin, alles om ons, ons geloof en die veranderinge binne ons harte, getuig van 'n liefdevolle Skepper wat smag om 'n verhouding met ons te hê. Vind troos in die wete dat die God wat die hemel en die aarde geskep het, jou ook teer in sy hande vashou. Soek Hom vandag en jy sal Hom vind.
Gebed
Dierbare Jesus, dankie dat U Uself deur die skepping en u Woord aan ons openbaar. Help my om u hand in elke aspek van my lewe te sien. Versterk my geloof om op u ewige teenwoordigheid en liefde te vertrou. Mag my hart na U, die Skepper van alles, getrek word. In u Naam. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Hunker jy na 'n dieper, meer onwankelbare geloof? Begeer jy 'n sterker fondament in jou wandel met God? In hierdie sesweeklange Bybelstudie gaan ons 30 fundamentele waarhede van die Christelike geloof ondersoek. Elke dag gaan jy in 'n Bybelse waarheid delf, van God se natuur en die outoriteit van die Skrif, tot die belangrikheid van gehoorsaamheid en die hoop op die opstanding.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/