Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van GodVoorbeeld
Die natuur van God: God se Heiligheid
Lees: Jesaja 6:1-5; 1 Petrus 1:13-16
SOAP: Jesaja 6:3; 1 Petrus 1:16
“Die serafs het mekaar telkens toegeroep: 'Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid'” (Jesaja 6:3).
“Daar staan immers geskrywe: 'Wees heilig, want Ek is heilig'” (1 Petrus 1:16).
Oordenking
Om die volheid van God se heiligheid te begryp, kan oorweldigend wees. In Jesaja 6:3 sien ons die visioen van God se troonkamer. Die uitroep van “heilig” wat drie maal herhaal word, beklemtoon die volledigheid en oppergesag van sy heiligheid. Daar is niks en niemand wat naby die heiligheid van God kom nie.
Om God se heiligheid te verstaan, help ons om in eerbied en aanbidding te reageer. Sy heiligheid beteken dat Hy heeltemal van sonde verwyderd is en volmaak regverdig in al sy weë is. Alles wat Hy doen, kom uit sy heilige karakter. God openbaar sy heiligheid aan ons nie om ons weg te stoot nie, maar om ons nader aan Hom te trek.
Hoe moet hierdie waarheid ons egter beïnvloed? In 1 Petrus 1:16 word ons herinner aan God se oproep om sy heiligheid in ons lewens te weerspieël. Dit beteken om, met die hulp van die Heilige Gees, daarna te streef om ‘n suiwer en regverdige lewe te lei, onsself van sonde te skei en ons lewens aan God toe te wy.
Ons weet dat Jesus gekom het om ons sondes te vergewe en ons nuut te maak. Tog, selfs as Christene, is ons nog nie volmaak nie, dus moet die Heilige Gees ons reinig terwyl Hy aanhou om in ons te werk. Die Heilige Gees gebruik swaarkry, moeilikhede en pynlike regstellings om ons karakter te verfyn, sonde te verwyder en ons meer soos Jesus Christus te maak. Hierdie proses, bekend as heiligmaking, is noodsaaklik vir ons geestelike groei en die verdieping van ons verhouding met God.
God se heiligheid is belangrik omdat dit definieer wie Hy is en die standaard stel vir hoe gelowiges moet lewe. Boonop is God se heiligheid ons troos in die aangesig van hierdie gevalle wêreld. Deur God se heiligheid te verstaan en na te streef, kan ons in ons geloof groei, meer soos Christus word en lewens lei wat Hom verheerlik en eer.
Gebed
Dierbare Jesus, dankie vir u volmaakte heiligheid. Help my om hierdie waarheid te verstaan en my eie te maak. Lei my om 'n lewe te lei wat u suiwerheid en regverdigheid weerspieël. Verfyn my hart en trek my nader aan U. Mag my lewe U verheerlik en eer in alles wat ek doen. In u Naam. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Hunker jy na 'n dieper, meer onwankelbare geloof? Begeer jy 'n sterker fondament in jou wandel met God? In hierdie sesweeklange Bybelstudie gaan ons 30 fundamentele waarhede van die Christelike geloof ondersoek. Elke dag gaan jy in 'n Bybelse waarheid delf, van God se natuur en die outoriteit van die Skrif, tot die belangrikheid van gehoorsaamheid en die hoop op die opstanding.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/