Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van GodVoorbeeld
Die natuur van God: Die Drie-eenheid
Lees: Matteus 3:13-17; Matteus 28:16-20
SOAP: Matteus 3:16-17
“Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook 'n stem uit die hemel wat gesê het: 'Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My'."
Oordenking
Het jy al ooit gesukkel om die konsep van die Drie-eenheid te begryp? Jy is nie die enigste een nie. Die Drie-eenheid – een God in drie persone – is 'n Goddelike misterie wat die mens nie kan verstaan nie, maar dit is 'n pragtige en noodsaaklike waarheid van ons geloof.
Daar is drie woorde wat ons kan help om die Drie-eenheid te verstaan: gelykheid, eenheid en onderskeiding. Elke persoon van die Drie-eenheid is gelyk in krag, verenig in liefde en missie en onderskeidend in rol.
Die Bybel gee vir ons verskeie insigte in die natuur of aard van die Drie-eenheid. Matteus 28:19 wys vir ons dat die Vader, Seun en Heilige Gees almal deel is van verlossing. God is een, maar Hy bestaan as drie onderskeie persone, elkeen volledig God.
In 2 Korintiërs 13:13 beklemtoon Paulus die verskillende rolle wat elke persoon van die Drie-eenheid in ons lewens speel. Jesus voorsien ons van genade deur sy offer. Die Vader aanvaar Jesus se offer vir ons sondes en stort sy liefde oor ons uit en die Heilige Gees woon in gelowiges en vorm ons meer na die beeld van Jesus Christus.
Ons sien ook die Drie-eenheid aan die werk by Jesus se doop (Matteus 3:16-17). Die Vader praat uit die hemel, die Seun word gedoop en die Heilige Gees daal neer soos 'n duif. Hierdie gebeurtenis beeld die eenheid en onderskeid van die Drie-eenheid pragtig uit.
Om die Drie-eenheid te verstaan en te aanvaar, beteken om God se eenheid en die onderskeie rolle van die Vader, Seun en Heilige Gees te erken (Deuteronomium 6:4).
Omdat die Drie-eenheid 'n misterie is, is daar geen menslike metafore wat ons ewige God werklik kan verduidelik nie. Dit beteken egter nie dat ons God nie kan ken nie. Ons kan Hom werklik ken soos dit blyk uit sy Woord en in ons lewens. Wat 'n wonderbare God wat ons dien!
Gebed
Dierbare Jesus, dankie dat U Uself as een God in drie persone aan ons openbaar. Help my om hierdie waarheid te verstaan en met ope arms aan te neem. Mag ek die genade van Jesus, die liefde van die Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees in my daaglikse lewe ervaar. In u Naam. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Hunker jy na 'n dieper, meer onwankelbare geloof? Begeer jy 'n sterker fondament in jou wandel met God? In hierdie sesweeklange Bybelstudie gaan ons 30 fundamentele waarhede van die Christelike geloof ondersoek. Elke dag gaan jy in 'n Bybelse waarheid delf, van God se natuur en die outoriteit van die Skrif, tot die belangrikheid van gehoorsaamheid en die hoop op die opstanding.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/