Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van GodVoorbeeld
Die natuur van God: God se Liefde
Lees: 1 Johannes 4:7-10; Johannes 3:16-17
SOAP: 1 Johannes 4:8; Johannes 3:16
“Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde” (1 Johannes 4:8).
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Johannes 3:16).
Oordenking
God het jou liewer as wat jy ooit sal besef. Hierdie diepgaande waarheid het die krag om jou hart te herskep en jou daaglikse doen en late te lei as jy dit aanvaar.
Eerstens moet ons besef dat liefde nie iets is wat God dóén nie; dit is wié Hy is (1 Johannes 4:8). Elke daad en elke besluit wat Hy neem, spruit voort uit sy wese van liefde. God se liefde is 'n onveranderlike, ewige waarheid.
In Johannes 3:16 sien ons die uiteindelike uitdrukking van God se liefde. Hy het ons só lief dat Hy Jesus Christus gestuur het om vir ons sondes te sterf — en ons die gawe van die ewige lewe te bied. Hierdie opofferende liefde is 'n kragtige demonstrasie van hoeveel ons vir Hom beteken.
God se liefde word getoon deur sy geduld, genade, en barmhartigheid. Dit verander nie en kan nie verander word nie. Ons kan dit nie verdien deur meer gehoorsaam te wees nie en ons kan dit nie deur ons mislukkings verloor nie. Deur te glo, ontvang ons verlossing deur God se genade — wat 'n gawe van God se liefde is.
Dink aan Romeine 8:38-39, wat ons verseker dat niks ons kan skei van die liefde van God in Christus Jesus nie. Hierdie belofte gee ons sekuriteit en vrede, wetende dat ons diep en onvoorwaardelik geliefd is. God se liefde is ons onveranderlike in 'n wêreld wat dikwels onseker en chaoties voel.
Vriendin, laat hierdie waarheid in jou hart insink. Die Een wat die heelal geskep het, het jou lief. Sy liefde is nie afhanklik van jou dade of prestasies nie. Dit is 'n gawe wat vryelik geskenk word as gevolg van wie Hy is. Aanvaar sy liefde, en laat dit jou siening van jouself en jou liefde vir ander herskep.
Gebed
Dierbare Jesus, dankie vir u wonderbare liefde. Mag u onvoorwaardelike liefde my hart herskep en my dade lei. Laat my leef in die vertroue dat U my innig liefhet. Mag ek daardie liefde aan ander weerspieël. In u Naam. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Hunker jy na 'n dieper, meer onwankelbare geloof? Begeer jy 'n sterker fondament in jou wandel met God? In hierdie sesweeklange Bybelstudie gaan ons 30 fundamentele waarhede van die Christelike geloof ondersoek. Elke dag gaan jy in 'n Bybelse waarheid delf, van God se natuur en die outoriteit van die Skrif, tot die belangrikheid van gehoorsaamheid en die hoop op die opstanding.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/