Volkome OorgaweVoorbeeld

Volkome Oorgawe

DAG 33 VAN 43

Lees: Rut 4

SOAP: Rut 4:14–15

Die vrouens sê toe vir Naomi: “Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou 'n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring.”

Oordenking

Omring jy jouself met mense wat jou aanmoedig, vir jou bid, jou seën en God loof vir die werk wat Hy in jou lewe doen? Van die begin af het God klem op gemeenskap geplaas. Die lewe is soveel ryker as ons die reis van die lewe saam met vriende loop, en ons geloof word verskerp wanneer ons tyd in verhouding met ander gelowiges deurbring. Voordat hy met die man onderhandel het wat die eerste regte op Naomi se grond en Rut se hand in die huwelik sou hê, het Boas gemeenskapsleiers bymekaargemaak om as getuies van die transaksie te dien. Wanneer die gesprek deur ander waargeneem is, sou daar geen twyfel wees oor die uitkoms nie, geen terugdraai van 'n belofte af nie. Op een of ander manier sou daar na Naomi en Rut omgesien word, en Boas het volgens sosiale gebruike opgetree om te verseker dat dit reg gedoen word. Die leiers het Boas se toegewydheid gevier om as die losser vir sy gesin te dien en het hul gesin en hul toekoms geseën. En toe Rut 'n seun gehad het, het die gemeenskap van vroue in die dorp saam met Naomi feesgevier. Hulle het haar verhaal geken, wat haar toekoms as 'n weduwee sonder seuns kon gewees het, en hulle was verheug oor die wete dat daar steeds na haar omgesien sal word.

Toe ons Naomi die eerste keer ontmoet het, het sy alles verloor, en haar hart was bitter. Later het die dorp se vroue God geprys vir sy voorsiening en verlossing van Naomi se familie. Alhoewel Boas met Rut getrou het en die familielyn toegelaat het om voort te gaan, is Obed, Naomi se kleinseun, as die voog van haar familie beskou. Obed was die een deur wie die lyn sou voortduur, die een deur wie God die grootste koning van Israel (Dawid) en die ewige koning van Israel (Jesus) sou bring. Die dorp se vroue het God geprys vir Naomi se kleinseun en vir haar skoondogter en gesê sy is beter as sewe seuns ('n Groot kompliment aan Rut aangesien seuns gewoonlik meer geag is as dogters). Dit was meer as waarvoor Naomi ooit kon vra of dink.

Wie is die vroue in jou gemeenskap wat jou verhaal kan waarneem en die werk van God in jou lewe kan raaksien? Wat kan jy God in die lewens van jou vriende sien doen? Hoe kan jy God se lof verkondig oor wat Hy in hulle lewens doen? Het jy 'n paar vriende wat jou verhaal so goed ken dat hulle dadelik sal herken wanneer God op 'n nuwe, onverwagte manier aan die werk is?

Bly bedag op die werk van God rondom jou, en wees 'n vrou en vriendin wat God heelhartig liefhet en Hom vrymoedig loof!

Skrif

Dag 32Dag 34

Aangaande hierdie leesplan

Volkome Oorgawe

Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/