Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van DaniëlVoorbeeld

Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël

DAG 19 VAN 43

Vertel vir ander van alles wat God vir jou gedoen het

Lees: Daniël 4:1-18 en 1 Petrus 3:15-17

SOAP: Daniël 4:2-3

“Ek betuig met blydskap dat ek die tekens en wonders wat die allerhoogste God gedoen het, kon belewe. Hoe groot is sy tekens, hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, sy heerskappy duur van geslag tot geslag.”

Oordenking

Hoofstuk 4 het 'n verandering in toon in koning Nebukadnesar gebring. Hy het met blydskap 'n brief gestuur aan almal in die koninkryk om hulle te vertel wat God vir hom gedoen het!

Hy kon nie anders as om te begin lofprys nie. Hierdie koning, wat ons voorheen as arrogant en vol trots gesien het, het God beskryf as groot, magtig, kragtig en ewig. Koning Nebukadnesar kon nie anders as om almal daarvan te laat weet nie.

Alhoewel die koning die koning van die konings geprys het, het God nog meer gehad om vir Nebukadnesar te leer. 'n Rukkie later het God nog 'n droom aan die koning gegee en dit het hom baie ontstel. Omdat hierdie droom van God was, kon die valse wyse manne dit nie uitlê nie.

Daniël was nou heel waarskynlik in sy laat dertigs of veertigs, maar hy was steeds 'n getroue dienskneg van God. Daniël was dapper genoeg om aan die koning die betekenis van die droom, wat God wou gebruik om Nebukadnesar nederig te maak, uit te lê.

God moet ons almal tot nederigheid bring om regmatig te verstaan wie Hy is en wie ons is in die lig van sy heiligheid. Ons is nie volmaak nie, maar Hy is. Elkeen van ons moet tot die besef kom dat die straf wat ons verdien vir ons sonde, skeiding van God is. Tog het God ons lief. Hy het Jesus, die Seun van God gestuur om die skuld vir ons sonde te betaal. Dit is 'n skuld wat ons nie kan betaal nie. Deur sy genade, deur geloof, kan ons nederig vergifnis van Hom ontvang.

Wat nog beter is, is dat ons verlossing nie hier stop nie. God neem ons liefdevol aan as sy kinders, gee ons die Heilige Gees, verander ons lewens en voorsien vir ewig vir ons toekoms. Hierdie goeie nuus moet gedeel word! God roep ons om ten alle tye gereed te wees om die hoop wat ons in Hom het, te deel. Wie vra God jou om vandag die goeie nuus van die evangelie mee te deel?

Gebed

Jesus Christus, dankie dat U my gered het. Die prys van my sonde was baie duur. U het my soveel meer gegee as wat ek verdien. Gee my 'n dankbare hart wat poog om lof, eer en glorie aan U bring. Here, mag ek voorbereid wees om 'n rede aan ander te gee vir die versekerde en standvastige hoop wat U my gegee het. Amen.

Dag 18Dag 20

Aangaande hierdie leesplan

Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël

Om as Christen in hierdie wêreld te leef, kan soms baie eensaam wees. Dit mag voel asof ons die enigstes is wat Christus getrou volg. Daniël het ook voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Daniël en sy vriende het gekies om God en sy weë te volg selfs al het dit ingedruis teen die wette van die land. Die boek Daniël spoor ons aan om God getrou te dien.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans